God kom in die nag

Deur dr. Isak Burger

Dr. Isak Burger (Foto: Facebook)

Dit het alles in die nag begin.

Genesis 1:2 sê vir ons daar was duisternis op die wêreldvloed toe God begin skep het. En die eerste ding wat God geskep het, was lig.

Op ’n tyd, terwyl die volk Israel in een van die donkerste tye van sy bestaan was – oorlog,  smart en leed – het die profeet Jesaja in Jesaja 9:1 hierdie woorde geprofeteer: “Die volk wat in duisternis wandel, het ‘n groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het ‘n lig geskyn.”

Hierdie woorde het nie alleen vir Israel die belofte ingehou dat daar in die donker nag van hulle bestaan weer lig sal kom nie. Hierdie woorde het veel verder as net Israel uitgekring – na die hele wêreld wat in die donkerte van sonde en verlorenheid verkeer.

Jesaja kwalifiseer in Jesaja 9:5 waaruit hierdie Lig bestaan het as hy sê: “Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee.

Kan jy dit dink – God betree die donker nag van Israel en die wêreld se sonde en ellende, nie met ’n hemelse leërmag of ’n groot magsvertoon nie, maar deur ’n Kind. Op die klein, tenger skouertjies van ’n babatjie rus die ewige heerskappy.

Hy sê verder van hierdie Kind: “en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors”.

Dis waarom die tydlose Kerslied “Stille nag, heilige nag” vir my so spesiaal is, want God bly nie weg as dit nag is nie. Hy kom in die nag in, Hy word as’t ware ’n “Nag-God” – om die nag te verdryf – die nag met die skepping, die nag toe dit vir sy volk donker was, maar veral 2 000 jaar gelede terwyl sonde en die duisternis van ellende en smart oor hierdie wêreld heers. Toe is die Kind vir ons gebore, het Hy sy Seun vir ons gestuur; ’n Kindjie gebore in ’n klein dorpie in Judea.

Dit was waarskynlik nag, want dit was in die nag toe ’n engel aan die herders in die velde van Bethlehem verskyn het met die woorde: “Kyk, ek bring julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees.”

Met die koms van Jesus na ons gebroke wêreld het die groot Lig gekom. Matteus 4:16 sê dit so duidelik: “Die volk wat in duisternis sit, het ‘n groot lig gesien, en die wat sit in die land en skaduwee van die dood, vir hulle het ‘n lig opgegaan.”

Nou, in ons dag, hier in Suid-Afrika, is dit ook in baie opsigte nag – miskien donkerder as wat dit ooit van tevore was. ’n Politieke nag, ’n ekonomiese nag, ’n morele nag.

Kersfees wil vir jou en my kom sê dat God nie die nag vermy nie; dat Hy juis sy Seun gestuur het om in ons nag in te kom. Daarom kon Jesus sélf in Johannes 8:12 sê: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.”

Kersfees beteken nie alles is nou reg nie. Kersfees sê net vir ons: In die nag van ons radeloosheid, het Hy ’n Raadsman geword; in die nag van ons onmag, is Hy die almagtige God; in die nag van ons alleenheid en bangheid, het Hy die ewige Vader geword; in die nag van geweld en misdaad en oorlog, het Hy die Vredevors geword. Kersfees sê dat Iemand, God sélf, deel van ons storie geword het – trouens, Hy het dit deel van sy storie gemaak.

Mag in hierdie Kerstyd die groot boodskap van die lig wat in die duisternis kom, van God wat sy Kind gestuur het, ook in jou hart opnuut betekenis kry – nie net in die Kerstyd nie, maar ook in tye wat kom en dit donker mag lyk, moet jy nie vergeet nie: God het sy Seun gestuur en op sy skouers rus die heerskappy, en Hy bring lig – ook in die donkerste plekke en oomblikke van ons lewe.

Mag jy hierdie Kersfees en ook in die nuwe jaar telkens bewus word van sy lig wat in die donkerte skyn!

  • Isak Burger is ʼn voormalige kerkleier en skrywer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Stiltetyd

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.