Gedagte vir die dag: God se meesterplan    

Saul het bang geword  vir Dawid omdat die Here by hom was, maar die Here het vir Saul verlaat. (1 Samuel 18:12)     

Dit was nie vir Saul nodig om vir Dawid bang te wees nie. Hy was immers koning en Dawid ’n blote onderdaan. Maar Saul vrees hom omdat hy besef dat die Here by Dawid is. Meer nog. Hy het geweet dat die Here hom verlaat het. Dit moes ’n skrikwekkende gedagte gewees het.

Selfs in Dawid se alleenste, bitterste ure was die Here by hom. God was deurentyd sy vriend en metgesel. Saul het gereken dat hy Dawid kon vernietig, maar die teendeel het waar geword. Hy is deur sy eie toedoen vernietig.

Deur al Saul se tirades en pogings om hom dood te maak het Dawid lojaal gebly en nooit ’n woord teen die koning gesê nie. Hy het sy opdragte stiptelik uitgevoer en sukses behaal – want die Here was met hom.

Saul het ’n gulde kans verspeel om die vriendskap en goedgesindheid van Dawid te wen. Hy het haat en bitterheid en wraak verkies. En hoe groter sy afsku van Dawid geword het, hoe duideliker het dit geword dat die Here met Dawid was.

God laat nie toe dat sy uitverkorenes uitgedelg word nie. Ondanks al Saul se pogings was die Here se meesterplan op koers. Nie net was Hy besig om Dawid voor te berei om een van die grootste konings in die geskiedenis van Israel te word nie, maar ook om die pad voor te berei vir die Seun van Dawid om gebore te word.

God se plan is altyd groter as die mens s’n.

Dankie dat niks u planne kan omverwerp nie. Amen

Bron: Die Here is my Herder deur Lizette Murray
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.