Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig. (Ef 4:23-24)
Lees Efesiërs 4:17-24
Jesus was ’n mens net soos ons, met één verskil: Hy was heilig en sondeloos. Hy kom juis na die wêreld om dit vir ons moontlik te maak om óók heilig te kan wees: “Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel,” skryf Paulus aan die gemeente in Kolosse (Kol. 1:22). God wil hê dat elkeen van sy kinders heilig sal wees soos Jesus. Om dit moontlik te maak het ons ’n “make-over” nodig, want almal van ons word in sonde gebore. Omdat God heilig is, sal jy alles in die stryd moet werp om óók heilig te wees deur al die dinge uit jou lewe te verwyder waarmee God nie tevrede is nie. Vra Hom om vir jou te wys watter sonde daar nog in jou lewe is, bely hierdie sonde en laat staan dit. Maar wees gewaarsku: Dit gaan beslis nie maklik wees nie.
Hoe jý dit kan regkry om heilig te wees word in vandag se kernvers verduidelik: Jou gees en gedagtes moet nuut word; jy behoort van nou af te leef soos ’n nuwe mens wat na God se beeld geskep is; jou lewenstyl moet volkome in ooreenstemming met God se wil wees sodat jy heilig kan wees soos Jesus.
Hemelse Vader, ek wil graag heilig wees soos U. Wys my asseblief van watter dinge in my lewe ek ontslae moet raak sodat ek nuut kan leef en dink en van nou af volkome toegewy aan U kan wees. Amen