Beskerm my soos die appel van u oog, steek my weg in die skaduwee van u vleuels. (Psalm 17:8)
Watter pragtige stukkie poësie is dit nie! Dawid vra dat die Here hom sal beskerm, hom sal wegsteek van sy vyande en gevare. Die “appel van die oog” is die pupil van die oog en is ’n kosbare en sensitiewe liggaamsdeel wat ons ten alle koste wil beskerm. Die herkoms van hierdie term leer ook vir ons ’n les. Die Hebreeus noem die pupil “die mannetjie van die oog”, soos verskeie antieke tale, omrede ’n mens jouself in miniatuur in ’n ander se oog kan sien weerkaats. Trouens, die Latynse woord pupilla beteken dieselfde: “poppie.” As ons in God se oë kyk, sien ons onsself – soos in ’n spieël, sê die Skrif elders. Ons sien onsself soos God ons sien.
Dieselfde geld vir God, nie waar nie? As Hy na ons kyk, sien Hy Homself, want ons is sy beeld. Daarom is jy vir Hom kosbaar; daarom sal Hy jou beskerm – jou wegsteek onder sy “vleuels”, waar jy altyd, altyd veilig is.”
Dankie, liefdevolle Vader, dat u oog op my is en dat U ook in my iets van Uself kan sien. Amen.