Kerssprokie vir ‘n straatkind

Verlede week in Ross se slaghuis vertel ‘n vriend wat die inspirasie agter die bekende liedjie Sprokie vir ‘n stadskind van Koos du Plessis was. Koos het op ‘n dag deur Hillbrow gery en gesien hoe ‘n ou swart vrou met ‘n wit kindjie aan die hand deur die vuil strate stap. Koos het gevoel die kindjie hoort nie in Hillbrow nie. Toe gaan skryf hy die liedjie vir die onbekende kind: “As jy geluk en vrede wil vind, soek die neonboog se punt. Dalk vind jy die land van blou saffiere en dalk ‘n brokkie son…”

Dit het my laat dink aan die verhaal van ‘n straatkind wat ek ken. Hy kon nooit wag dat die stad se Kersfeesliggies aangeskakel word nie. Sy gewone lêplek was bo in Hillbrow, voor Checkers, waar hy geslaap en parkeerplek aangewys het. Maar soos Kersfees nader sluip, het sy slaapplek nader aan die stadsaal verskuif. Reg onder een van die helderkleurige, flitsende Kersfeesliggies het hy sy bed van karton en koerantpapier gemaak. In die nagte voor Kersfees het hy gelê en kyk na sý spesiale Kersfeesliggie wat bokant sy straatbed geflikker het. Dan het hy aan sy ma gedink. Hy het probeer onthou hoe haar gesig lyk, want soos hy vir my in gebroke Engels probeer verduidelik het: “I think my mother. She live me the time I was too small.” Hy onthou haar ma-reuk, want sy’t altyd na Sunlightseep en songedroogde wasgoed geruik. En hy onthou haar warm lyf, hoe sy hom aan haar bors gedruk het.

Toe hy sewe jaar oud was, het die man op wie se plaas sy ma gewerk het, hom op ‘n vragmotor gesit wat goedere na die mark toe neem en hom langs die pad afgelaai. Hy vertel in sy eie woorde: “I look. Is nowhere. Just the veld. I get out. He start riding again. The other man on the lorry he sorry me. He throw down the cold mieliepap in the newspaper to eat, and fifty cents. He shouts: ‘Go to Egoli! That way.'”

Maar hy het geweet God sal hom nooit weggooi nie. Die Modimo van wie sy ma hom vertel het, sal vir hom sorg. Dan, skielik trek hy los met die liedjie wat sy ma hom geleer het: Wangi thand ‘u Jesu lo (Jesus min my, salig lot).

Een Kersfees het ‘n kerkgroep vir die straatkinders van Hillbrow kos gebring. ‘n Vrou in die groep is getref deur die manier waarop een van die kinders sy klein handjies uitgehou het. En net soos met Koos Doep, het dié kind by haar gespook. Hoe kan sy sê sy is ‘n Christen – en ‘n ma daarby – as sy weet daardie kindjie gaan Kersnag in die strate deurbring? Die volgende aand het sy hom gaan haal, in haar groot Duitse motor. Sy het haar eie kinders saamgevat. Sy het hom na haar huis in ‘n gegoede woonbuurt geneem. Dit sou sy nuwe tuiste word. Nie in ‘n buitekamertjie nie, maar in die huis, soos ‘n kind, waar hy in die voorregte kon deel en skool toe kon gaan.

Nhlanhla (Lucky) se Kersgeskenk was ‘n ma en ‘n huis. Nie sy eie ma nie, wat sy kon nie opgespoor word nie, maar ‘n wit ma wat ‘n swart kindjie se hand kom vat het, hier onder die neonboog se punt.

Die verhaal is oorspronklik gepubliseer in die boek Hillbrow is nie vir sissies nie: Ware stories van hoop geskryf deur Elise Bosch, uitgegee deur Lapa Uitgewers, 2002.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae