Gedagte vir die dag: Kýk wat gebeur!

klip-hart-boekevat.jpg

Foto: imageprest.com

Lees 1 Johannes 3:18-24

Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie … (1 Johannes 3:18)

Johannes onderstreep sy oproep tot daadwerklike, praktiese liefde. Maar, voeg hy dié keer by, daar is ’n tasbare voordeel vir die liefdegewers, ’n uitmuntende byvoordeel as ’t ware: Hierdie liefdesdade bevestig dat ons aan God behoort, en só kom ons gewete tot rus. ’n Skoon gewete voor God is ’n wonderlike gawe. Dit gee ons regstreekse toegang tot God se luisterende oor en gewende hande. Gee, en vir julle sal gegee word! Dit is wat Johannes hier sê. Maar die opspraakwekkende nuus oor die grootste gawe denkbaar verklap Johannes eers in die heel laaste vers waar hy skrywe: “Hy het ons sy Gees gegee.”

Wat ’n kettingreaksie! Om te dink dit alles begin by ’n mens wat doodgewoon ’n klinkklare voorbeeld volg, sy hand uit sy mou haal en dit na ’n medemens reik. So logies. So voor die hand liggend. Waarom is die lewe dan nie vol blymoedige gewers nie? Waarom haal barmhartigheid hoegenaamd die nuus? Waarom vind kerk en samelewing dit nodig om die linkerhand luidkeels in te lig oor wat die regterhand doen?

En vanwaar al die behoeftiges, die bedelaars? Die verhongerdes? Hoekom is hulle so baie? Daar is dan soveel gelowiges, soveel kerke? Wat ’n aanklag! Miskien het die huiwering om met oorgawe te gee ook hierdie ellendige gevolg: gelowiges se knaende twyfel. Die aanhoudende gehamer van hul gewete. Die skreiende onkunde oor die teenwoordigheid van die Gees in hul lewe.

Maak oop my hande, Here, sodat my hart kan rus. Sodat u Gees in my regeer.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae