Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het! (Psalm 8:2)
“Hoe wonderbaar is u Naam oor die ganse aarde … ” So begin en eindig hierdie mooi psalm. Dit gaan oor die wonder van die skepping en hoe elkeen die Skepper daarin kan raaksien. Dawid sê hy kyk op na die hemel, die werk van God se hande, hy sien die maan en die sterre, en hy besef: “Hoe groot is U!” Wel, nou nie in daardie woorde nie, maar beslis daardie gedagte! Sing julle ook daardie lied? Hy sê selfs kinders en suigelinge kan God in die natuur raaksien.
Hier is vir ons ’n les in, want om God in die skepping te herken is nie ’n vreeslike verstand-saak nie – dis nie ’n beskrywing of ’n bewys nie. Dis eerder ’n gewaarwording, ’n aanvoeling, ’n hartswete. Ons moet eers onsself vergeet, onsself verloor in die natuur – dán beleef ons die konneksie, die vloei, die awe … Kinders doen dit vanself, maar ons kan dit ook aanleer. Gee jou aan die verwondering oor en vind God dáár!
Leer my kyk, Teenwoordige, leer my sien, leer my om my in U te verwonder! Amen.