Gedagte vir die dag:  Leermeesters

vriendinne_sonsondergang_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees 2 Timoteus 3:10-17

Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was … (2 Timoteus 3:14)

Paulus, ná sy vermaning en bemoediging van die gelowiges wat Jesus se weerkoms spoedig verwag en wat sukkel met die mense wat dit nie goed bedoel met hulle nie, wend hom nou na Timoteus, die jong man wat in sy voetspore volg.

My liewe Timoteus, sê hy vir hom, jy  moet waaksaam wees. Jy moet op jou hoede wees vir hierdie goddelose mense, hierdie bedrieërs wat hulle daarop toelê om mense te mislei. Hulle is self die kluts kwyt! Hulle weet dit net nie.

Maar jy weet wie jy is, waar jy vandaan kom, wie jou alles geleer het wat jy van die geloof in Jesus Christus weet. Bly daarby. Brei jou kennis van die Skrifte uit, want dit sal jou op velerlei maniere help. Ja, juis vir jou, wat ook ander mense moet leer hoe om te lewe.

Wát anders, Timoteus, leer jy vir mense as dit wat jy by jou leermeesters geleer het? En hoe bevoorreg is jy om by sulke mense te kon leer.  Beginnende destyds, by  jou ma  en  jou ouma (vgl. 2 Tim 1:5). Onthou ook, Timoteus, dat alle voorgangers – al doen hulle ook alles meesterlik goed – ménse is. Mense wat menslike dinge op ’n menslike manier doen. Wat, soos alle mense, kleivoete het. Uiteindelik buig ook hulle, die beste leermeesters, voor die enigste Meester.

Dit is dus sý Woord wat die grondslag van jou lewe en jou verkondiging lê en nie die woorde van aardse leermeesters nie, hoe goed bedoelend en welsprekend hulle ook al is. Hou jou ten slotte by wat jy by Hom geleer het.

Ek dank U, my Here en Meester, vir hulle wat my geleer het, én hulle by wie ek steeds leer.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.