Gedagte vir die dag: Die liefde maak dankbaar

Foto: pixabay.com

Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. Jy mag naas My geen ander gode hê nie. (Eksodus 20:2-3)

Daar is min dinge wat soveel vreugde aan soveel mense bied soos wanneer ’n man en ’n vrou in die openbaar ’n belofte van liefde en trou aan mekaar maak. Hulle sluit ’n kontrak met mekaar en belowe voor God dat hulle die huweliksverbond sal hou en beskerm.

Die Tien Gebooie, soos die ou volk dit verstaan het, was ’n verbond wat God met sy volk gesluit het. ’n Kontrak, soos dié waarin ’n bruid en bruidegom aan mekaar die voorwaardes van hul liefde uitstippel.

In daardie ooreenkoms is die grense van hul onderlinge verhouding duidelik uitgespel: “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. Jy mag naas My geen ander gode hê nie” (Eks 20:2-3).

Dit was God self wat die voorwaardes vir die liefdesverbond opgestel het. En dit is Hy, so hoor ons reg deur die Ou Testament, wat getrou aan sy volk bly. Al loop hulle gedurig weg, soos ’n ontroue geliefde.

Wanneer Jesus later aarde toe kom om die wet te vervul, word daardie verbond op ’n dieper, meer persoonlike vlak gesluit met elkeen wat in Hom glo. Nou is die Ek-is-die-Here-jou-God-gebod nie bloot woorde in die Bybel se Ou Testament nie; dit word ’n lewende werklikheid in ons hart. God sluit deur Jesus se dood en opstanding met ons ’n hartsverbond, soos ’n Bruidegom met sy bruid.

Maar ons leer nie uit Israel se foute nie. Ons vind in onsself ’n hart wat gedurig dwaal, ’n siel wat dikwels op plekke gaan soek waar daar nie werklik liefde te vind is nie. Die bruid word so maklik ontevrede en onvergenoegd, ondankbaar teenoor die hemelse Bruidegom …

Maar God bly getrou. Jesus, die Getroue Een, leer ons wat en hoe ware liefde is. Hy leer ons wat en hoe vergifnis is. En geregtigheid en vertroue. Dis Hy wat ons leer dankie sê en om vergenoeg te leef.

Dis juis in die verhouding tussen ons en Jesus wat ons liefdevol na sy beeld getransformeer word. Nou leer ons dat niks en niemand ons toewyding, oorgawe, volkome liefde en ons dank werd is nie. Slegs God kan “Nommer Een” in ons hart wees. So word dankbaarheid ’n spontane reaksie op hierdie onverbreekbare liefdesverbond wat Hy met ons sluit.

Here, help my om U altyd as die Eerste in my hart te erken. Dankie dat U my oneindig liefhet.

Bron:
100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade. Amen!

Von ·

Here dankie vir U oneindige groot liefde vir sondaars soos ek….U genade is vir my genoeg

Bronkhie ·

Dankie Here dat U altyd daar is vir my, maak nie saak hoeveel keer ek U in die steek laat nie. Dankie dat U my altyd lief het. U het die eerste en grootste plek in my hart.
Amen.

Maria ·

Ek erken dat U verbond verbreek deur U genade het ek U nommer een Agape in my lewe gemaak.

GL ·

Dankie Here, help my om U eerste te stel in ELKE situasie in my lewe. Amen.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.