Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is. (Joh 13:34-35)
Alles wat God vir my begeer en alles wat God is, word in hierdie woorde saamgevat. Wil jy weet wat jy mag en nie mag doen nie? Vra dan die vraag: Wat is liefde vol en wys, en wat is nie?
Kyk na jou hele lewe – die manier hoe jy aantrek, geld spandeer, loop, praat, jou gesindhede en houdings, reaksies – is dit liefdevol en wys teenoor ander of selfsugtig en onwys? Is daardie grappie wat jy wil vertel lief de vol en wys? Is daardie TV-program liefdevol en wys? Is jou houding teenoor jou vrou of skoonma liefdevol en wys? Is jou reaksie teenoor jou tiener liefdevol en wys? Dít is die gebod waaronder die dissipels van Jesus lewe. Niks anders nie. Niks anders is nodig nie.
Vader, reinig my deur u Gees in alles tot liefde en wysheid. In baie areas is ek onwys en liefdeloos selfs sonder dat ek dit weet. Ek wil geheel en al onder u gesag staan.