Luister: Gee die geskenk van ’n veiliger kinderlewe

Ermias lees die Kersverhaal vir sy tweelingseuns, Fasil en Ezana (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Elke Christenkind regoor die wêreld moet beskerm word en voorsien word van ʼn opvoeding wat aan hulle hoop en ʼn toekoms bied. Terwyl ons nou in Suid-Afrika begin voorberei om Kersfees te vier, herinner ʼn organisasie soos Geopende Deure ʼn mens daaraan dat daar talle kinders en hul gesinne is wie se Kersfees heeltemal anders lyk as die een wat ons vier.

Geopende Deure weet dat in baie lande waar Christene as gevolg van hul geloof vervolg word, Kersfees juis een van die gevaarlikste tye van die jaar vir gelowiges is, en dit sluit ongelukkig nie kinders uit nie.

“Fasil* en Ezana*, ʼn sewejarige tweeling van Ethiopië, is onder die talle kwesbare kinders in dié Afrikaland wat vervolging eerstehands ervaar. Hulle oë blink van vreugde as hulle dink aan die komende Kersseisoen en die speletjies, heerlike kos, Kersliedere en die gewoel by die huis met mense wat soontoe kom om meer oor Jesus te hoor.

“Al wat die twee seuns se grootste wens vir Kersfees is, is die geskenk van ʼn veiliger kinderlewe,” verduidelik Elizabeth Botha, mediabeampte van Geopende Deure Suider-Afrika.

Elizabeth sê in die suidelike Ethiopiese dorp waar dié tweeling bly, word evangelistiese Christene meedoënloos geteiken. Die kerk word dikwels met klippe bestook terwyl gelowiges besig is om binne saam te bid. In een gruwelike voorval het Moslem-ekstremiste ʼn groep Christen-vroue geteiken terwyl hulle besig was om te evangeliseer, hulle op die grond rondgesleep en op hulle urineer.

Volgens die seuns se pa Ermias* het die plaaslike gemeenskap se skool geweier om sy kinders die punte te gee wat hulle verdien. Hulle toetspunte is dikwels verlaag. Sonder ʼn goeie opvoeding was daar min hoop vir die tweeling se toekoms en boonop was hulle die heeltyd geboelie en hul lewens ook voortdurend in gevaar omdat hulle in Jesus glo.

Danksy ʼn oorbruggingsprojek van Geopende Deure is ʼn nuwe laerskool op die kerkgronde oopgemaak. Hierdie skool verskaf nie net ʼn veilige plek vir Christen-kinders nie, maar aanvaar ook kinders van ander gelowe.

Sedert die tweeling na dié skool oorgeplaas is, floreer hulle akademies, geestelik en emosioneel in die klas.

Regoor Ethiopië, en in ander lande waar Geopende Deure en sy vennote oorbruggingsprojekte bedryf, is daar geleenthede om ʼn beter toekoms vir moedige kinders soos Fasil en Ezana te skep.

“Jy kan hierdie jong kinders ondersteun deur veiligheid, opvoeding en hoop te bring deur te verseker dat hulle vandag kan uitblink. So word daar ook aan die volgende generasie van gelowiges gebou. Jou Kersgeskenke en gebede kan die kerk, Geopende Deure en sy vennote help om voort te gaan om Jesus se lig helder in die donkerste plekke te laat skyn.”

Fasil en Ezana (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Hoe kan jy help?

  • Met ʼn skenking van so min as R180 kan jy help om traumaberading aan ʼn vervolgde Christenkind te gee, en so hoop en genesing bied.
  • R380 kan een gesin wat deur gewelddadige vervolging geraak word met dringende kos en hulp ondersteun.
  • R1 320 kan ʼn maand se skoolonderrig voorsien aan tien kinders wat weens hulle geloof vervolg word, en hulle help bou aan ʼn beter toekoms.

Klik hier om deel te word van Geopende Deure se “Children at Christmas”-veldtog om vervolgde kinders te ondersteun. Maak hierdie Kersfees ʼn verskil in hul lewens met die geskenk van ʼn beter toekoms en ʼn veiliger kinderlewe.

  • Luister ook boaan hierdie berig na die volledige onderhoud met Elizabeth Botha van Geopende Deure Suider-Afrika waar sy die getuienis van die tweeling uit Ethiopië deel. Sy verduidelik ook hoe jy vervolgde Christenkinders hierdie Kersfees kan ondersteun.

*Name verander om identiteite te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.