Luister: Indië bly steeds gevaarlik vir Christene

Indie-vlag-pexels-pixabay

Indië se nasionale vlag. Foto: Pixabay.com

Indië is op die oomblik volgens Geopende Deure se internasionale Wêreldwaarnemingslys steeds die 10de gevaarlikste land vir Christene wat vervolging weens hul geloof betref.

Hindoe-ekstremiste probeer hul bes om Christenskap en ander minderheidsgelowe in dié land heeltemal uit te roei. Die ekstremiste gebruik ernstige geweld om hul doel te bereik.

“Geopende Deure se plaaslike vennote het gehoop dat die Covid-19-inperking tot minder aanvalle op Christene sou lei, maar dit was ongelukkig nie die geval nie. Honderde gelowiges in die land is die afgelope jaar fisiek aangeval oor hul geloof in Jesus.

“Ons vennote vertel dat Christene in Indië mediese hulp geweier word weens hul geloof en die polisie wil hulle ook nie help nie,” het Vicky Kente, woordvoerder van Geopende Deure Suider-Afrika, gesê.

Volgens Kente is talle gelowiges ook gedurende die pandemie voedselhulp van die regering geweier.

“Die situasie in Indië raak beslis al erger. Verskeie leiers en politici in die land het openlik verklaar dat hulle die land wil ‘skoonmaak’ van alle Christene en ander minderheidsgelowe.

“Christene landswyd in Indië leef elke dag in vrees terwyl ʼn verskerpte veldtog van gewelddadige teistering en vervolging teen hulle gevoer word. Daar word teen gelowiges gediskrimineer, want wanneer hulle tot geloof in Jesus kom, word hulle deur hul families en gemeenskappe verwerp. In baie gevalle sukkel hulle om te oorleef en vrees dikwels vir hulle lewens.”

Hoe help Geopende Deure Christene in Indië?

Geopende Deure versterk die kerk in Indië met behulp van sy plaaslike vennote deur die verskaffing van Bybels, noodleniging en voedsel vir diegene wat regeringshulp geweier word, hulp met mediese koste, geletterdheidsopleiding, om voorbereid op vervolging te wees en soveel meer.

Lesers kan ook die geloofsfamilie in Indië ondersteun deur Christene in hierdie land met ʼn geskenk van ʼn donasie te seën.

“Jou geskenk kan vandag help om vervolgde gelowiges te ondersteun en by staan sodat hulle kan voortgaan om Jesus se lig in daardie donker land te laat skyn,” het Kente bygevoeg.

SMS net “MAROELA en jou NAAM” na 43699 om ʼn verskil in die lewens van vervolgde Christene in Indië te maak. Standaard SMS-tariewe geld.

  • Vicky Kente, woordvoerder van Geopende Deure Suider-Afrika, het met Maroela Media gesels oor die situasie van vervolgde Christene in Indië. Sy deel die inspirerende getuienis van twee Indiese vroue wat ten spyte van erge vervolging steeds hul Christenskap uitleef. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie artikel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.