Lees Psalm 23
Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig. (Psalm 23:4)
Die bekendste van alle psalms het ‘n bekoring- en in bemoediging en ’n troos en ’n stille jubeling – vir alle tye. Vir alle skape in die Here se trop, vir alle eregaste aan sy tafel en alle kinders in sy huis.
Juis ook vir almal wat die lewe se donker dieptes ken en al ’n keer of wat deur die dal van doodskaduwee moes gaan.
Want dit blyk uit dié psalm dat dit juis hierdie ellendige ervarings was wat die digter van aangesig tot aangesig met die Here gebring het. Dit was toe dat hy – só sien ons duidelik in die psalm se struktuur – nie meer óór die Here praat nie, maar mét Hom begin praat. Aanvanklik was dit “Hy” wat so goed vir die kuddetjie was; nou, in die slegte tye, is dit “U” wat die lof en dank verdien.
So skarnier ons lewe dikwels om die vreesaanjaende gebeurtenisse in ons lewe.
Goddank, daarom, vir die dae van die gelykpad. Die rustye by die water, die opbou van nuwe krag. Én die voorreg om deur die Here bederf te word.
Uiteindelik is dit die laaste woord in elke gelowige se lewe: Dankie vir die tuiskoms, Here. By U bly ek vir ewig en altyd.
O Here, my Herder, wat ‘n vreugde om U in alle tye van my lewe te kan ken. Wat ‘n voorreg om deur U tot rus gebring te word. Wat ‘n troos om deur u stok en u staf beskerm te word. Ek leef van u hartlikheid, ek kom by U tuis.