’n Goeie God in ’n slegte tyd

Ds. Tiaan Jordaan van dieKruis-gemeente in Pretoria. (Foto: Verskaf.)

Deur ds. Tiaan Jordaan

Lees die volgende teksgedeelte: Daniël 3:13-27

“Die werklike probleem is nie hoekom sommige saggeaarde, nederige en gelowiges mense swaarkry nie, die werklike probleem is hoekom sommige nié swaarkry nie.” – CS Lewis

Die feit dat ek gespaar is om hierdie gedagtes neer te pen en jy nog hierdie skrywe kan lees, is blote genade. God is heilig, almagtig, alwetend en alomteenwoordig. Ons is nie. Dit is juis hier waar die fout lê. Soos mens nie naby aan die son kan kom sonder om verskroei te word nie, so kan ons onheiligheid eintlik nie naby aan God se heiligheid kom nie, ons sal verteer word. Dus is die eintlike vraag nie hoekom sommige mense doodgaan van die koronavirus nie, die vraag is hoekom laat God toe dat ons nog mag leef!

In ’n antwoord op ’n skeptiese persoon se vraag oor hoe ’n goeie God pyn kan toelaat, het Tim Keller opgemerk dat pyn vir die ongelowige meer problematies is as vir die gelowige. Want as daar nie ’n Groter Goedheid is nie, dan is daar geen hoop nie. As alles van kans en natuurlike seleksie afhang, dan is die morele kompas wat elkeen van ons het, van geen waarde nie. Wie bepaal dan wat reg en verkeerd is? Hoe kan verkeerd eendag reggestel word as ons morele kompas nie gekoppel nie is aan iets wat meer is as net ons eie opinies?

(Foto: Henry Be/Unsplash.)

In die tyd van Daniël en Jeremia het die volk gruwelike dade gedoen wat die Here gegrief het. God het hulle tot inkeer geroep, maar die volk het volhard in hul sondes. God het die volk gestraf deur die Babiloniërs (Jeremia 4). Hulle modes operandi was om die room van die volkere wat hulle ingepalm het, te neem na Babel sodat Babel gebou kan word met die beste kundiges wat hulle kon kry. Dit is hoe Daniël, Sadrag, Mesag en Abednego in Babel beland  het.

Met ’n land wat verwoes is, hoop en persoonlike drome en ideale wat in skerwe lê, word Sadrag, Mesag en Abednego tot die uiterste beproef. Hulle moet voor die koning buig en hom aanbid. Indien hulle weier, sal hul lewens geneem word.

Die trio staan te midde van ’n groot onreg wat teen hulle gepleeg word. Hulle God wat volkome goed en almagtig is, dring hulle om uit te roep: “Ons sal nie voor u buig nie, God is met ons! Hy sal ons red en al sal Hy nie, sal ons Hom alleen aanbid” (verkort).

Om God te hê as hoop, maak dat jy ’n ewigheidsperspektief ontwikkel. Die aarde se seer is steeds ’n werklikheid, maar is dwergieklein teenoor die heerlike hoop wat die trio deur hulle geloofsoog gesien het. Vir hulle was God mét hulle in hul seer. Hy was die een wat dinge kon verander, wat bo die omstandighede sit en besig was om hul swaarkry en seer in sy diens te stel en iets beters daarvan te maak (Vergelyk Rom. 8:28).

’n Soortgelyke geval sien ons aan die kruis. As ’n mens daar by Golgotha staan en jy sien geharde manne wat ons Here Jesus mishandel, vloek en vals beskuldig, dan besef jy: God is mét ons in ons seer, Hy het deel kom word hiervan. Hy staan ook bo dit, want Hy het al die goed daar toegelaat om te gebeur en dit in sy diens gestel om redding te bring.  Waar dit vir ons op die oog af toevallig of buite beheer kan lyk, is God in beheer en is alles in sy diens om uiteindelik groter goed te bring.

Dus, God kan almagtig wees, volkome goed wees terwyl daar iets soos die koronavirus bestaan, alles op een slag. Maar ons kan weet dat dit en al die negatiewe uitdagings wat daarmee gepaardgaan, nie buite beheer is nie. God is saam met jou daarin, Hy stel al die dinge in sy diens en is aktief besig om iets goeds hieruit te maak. God is mét jou in jou vuur.

“Difficulties take away earthly comforts and then, through prayer and reflection on the Word, we are driven, closer to God to get his unique consolations. The process is long and, in many parts, painful, but the fruit is a spiritual poise that no trouble can dislodge.”  – Tim Keller

Mag jy God se vrede ervaar in hierdie tyd.

  • Ds. Tiaan Jordaan is ‘n leraar by dieKruis-gemeente in Pretoria.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Yvonne ·

Liewe Stefan …my voorstel lees weer en weer die stuk tot dit insink….Die Heer is altyd goed…dit is hoe Hy is…Amen

OW ·

Jy is reg Yvonne.Die Here is altyd goed.Dit is die mens wat alles kom bederf het.Die mens het gesondig en sondig nog steeds.Met hierdie afsonderingstyd waarin ons nou is,is daar nog steeds mense wat nie luister nie.In die geloof is daar 3 kritiese deugde wat nagekom moet word nl glo,vertrou en gehoorsaam wees aan God.Jy kan die eerste 2 nakom maar as jy die kritiese gehoorsaamheid nie nakom nie, het jy niks gevorder nie.Kom dit na en jy sal God se goedheid beleef.Groetnis.

Flemming ·

Ek wonder of God ons nie in ons “binnekamers” indwing waar ons sonder die wereldse aandagaftrekkers (weer) bewus sal word van Sy liefde, vergewing, genade…….ens ens nie.

Andries ·

God het die bose toegelaat om die slegste dinge met Job te laat gebeur. Maar lees in die laaste hoofstuk hoe God weer vir Job in ere herstel het en hy meer gesëen was as voor die slegte tye.
Al gebeur die slegste in jou lewe sal die goedheid en genade van God jou in staat stel om die las te dra.
Wanneer slegte dinge gebeur met jou moet jy nie vra nie: Waarom moes dit nou juis met my gebeur het”.Vra liewer: Waarnatoe wys hierdie gebeure my? Wat moet ek verander in my lewe? Die kuns is om nie te vries en niks te doen as die slegte goed toe slaan nie, Al lyk die probleem nou vir jou oorweldigend, is daar altyd ‘n uitweg. Die uitweg kan bitter moeilik wees en is soms onsigbaar klein en as jy ingestel is op die leiding van God, sal jy dit raak sien en een tree op ‘n slag uit die slegte donkerte begin beweeg.Dit gebeur nie oornag nie. God gebruik die slegte dinge in jou lewe en omskep dit in die goeie. Jy moet net saamwerk met Hom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.