Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie. (Jesaja 43:11)
Die Here bevestig in Jesaja 43:11 aan sy volk dat Hy alleen God is, hulle redder. Daar in ballingskap was die Jode blootgestel aan die afgode van die Babiloniërs en al die ander volke wat ook daarheen verskuif is. In hulle primitiewe denke het die gode van die Babiloniërs, veral Marduk, hulle eie gode “gewen” omdat dié nie kon keer dat hulle weggevoer word nie. Dit was nogal ’n groot probleem vir die Jode om hulle geloof te behou in sulke omstandighede. Hulle het letterlik gevoel soos die children of a lesser god. Terwyl die Joodse geloof wel veranderinge ondergaan het in daardie tyd, het hulle darem die geloof in Jahwe, hulle Verbondsgod, behou – natuurlik danksy die werk van hulle priesters, profete en rabbi’s.
Ons leef ook in ’n wêreld van baie gode – waarvan die sterkste een Mammon is, die geldgod – en ons kan dalk wonder wie nou eintlik mag het in hierdie wêreld. Laat my toe om hierdie vers vandag aan jou voor te hou: Daar is net een God, en sy Naam is Jahwe. Hy is steeds wie Hy is.
Dankie, Here, dat U is wie U is, en altyd dieselfde sal bly. Amen.
Dankie vir die stukkie. Vir myself en almal daarbuite. Die lewe is soms moeilik en besigheid soms skaars, maar kom ons bid en vertrou. Hy sorg vir ons, as ons Hom vra en glo sal Hy ons dra.
Amen!