Gedagte vir die dag: Onafskeidbaar

(Foto: Unsplash)

Kan enigiets ons ooit van Christus se liefde skei? Sal dinge soos lyding of benoudheid of vervolging, honger of koue, of gevaar of doodsdreiging dit regkry? (Romeine 8:35)

Iemand het Romeine eenkeer beskryf as ’n goue ring en hoofstuk 8 as die diamant in die middel daarvan. In ’n hoofstuk vol geestelike skatte begin Paulus deur ons verlossing van slawerny te vier met “geen veroordeling nie” en hy sluit af met die ondersoek van God se liefde vir ons deur te verklaar “niks kan ons skei nie”. Beide stellings getuig van die durende karakter van God, onoortreflik in skoonheid, almag en heerlikheid.

Paulus verken verskeie areas van ons lewe in ’n poging om iets te vind wat skeiding tussen ons en God kan bring. Hy werk deur elke ramp, ontleed uiterlike druk, ondersoek innerlike spanning, inspekteer moeilike situasies en lys moontlike gevare, maar daar is niks. Stel jou voor – nie eens die dood kan God se liefde vir ons laat ophou nie. Trouens, weerstand en vyandigheid het meestal die teenoorgestelde uitwerking as wat die duiwel beplan, want dit bring ons nader aan God en laat ons stywer aan Hom vashou.

Dit is hierdie ewige hoop en immergroen waarheid dat niks ons van die liefde van God kan skei nie, beide in hierdie wêreld en die een wat kom, wat ons met diepe vreugde en blywende dankbaarheid vul.

Wanneer God as Hoofregter aan my kant is en my vryspreek, wie kan teen my wees? Tog sal Satan enigiets probeer om my te laat ontspoor. Dankie dat U my vandag kom herinner dat niks my van u liefde kan skei nie: nie swaarkry, probleme, vervolging of hongerpyne nie, nie ’n gebrek aan klere nie, nie geweld of gevaar nie. Niks. Nie eens die dood nie! Amen

Bron: In vreugde en vertroue deur Suria Scholtz
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Die dag toe ek hierdie gesnap het en my eie gemaak het het my lewe sin gemaak..Amen dankie Here

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.