Gedagte vir die dag:  Ondeurgrondelik

wildernis_rivier_stroom_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Romeine 11:33-36

Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. (Romeine 11:36)

Bybelkenners sê Paulus se Romeinebrief val in twee duidelike dele uiteen: hoofstuk 1–11, wat nogal ingewikkelde teologiese argumente bevat; en hoofstuk 12–16, wat genoemde “harde” teologie in praktiese, goed verstaanbare riglyne uiteensit. Dié verdeling het sin, juis as die Bybelleser by hoofstuk 12 se eerste vers aanland, wat só lui: “En nou doen ek ’n beroep op julle … op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God …” (Rom 12:1).

Paulus argumenteer só: God se groot ontferming, dit wil sê Hy wat Homself aan die mensdom gee (soos in die eerste elf hoofstukke beskryf), word gevolg deur die oproep om jouself aan Hom te gee (waarvan die praktiese betekenis nou gaan volg).

Hoe treffend dan dat hy die eerste elf hoofstukke met ’n gedig afsluit, ’n lied. Ja, ná die lang sinne en die “swaar” teologie (onder meer oor die uitverkiesing) gaan Paulus aan ’t sing!

Soos verwag kan word, is dit nie ligte musiek nie – hoe kán dit wees. Nee, hy sing oor die “ondeurgrondelikheid” van God, die “onnaspeurlikheid” van sy optrede. Hier hoor Bybellesers sommer ook weer daardie bekende woorde in Jesaja: “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here” (Jes 55:8). Ja, wié ken Hom werklik, en wié kan sê hulle is in sy goeie boekies en daarom skuld Hy hulle iets?

Nee, ons moet meer sing en minder preek. Meer dig en minder ontleed. Eerder op die noot probeer land as poog om agter die kap van die byl te kom. God is selfs groter as wat ons verste vermoedens strek. En ons is veel, veel kleiner as wat ons dink.

Aan U behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here ek staan weereens verstom oor U liefde vir n mens…dankie dat ek met geen prestasie iets in U goeie boekies kan verdien nie…ek is reeds daar suiwer deur U liefde en genade

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.