Gedagte vir die dag: Ons goeie nuus!

gebed_stiltetyd_sit_sonsopkoms.jpg

Foto: stylonica.com

Die goeie dinge wat ek wil doen, doen ek nie. Maar die lelike dinge wat ek nie wil doen nie, doen ek. (Romeine 7:19, Die Boodskap)

Hy was die groot Goeie Nuus-maker. ’n Man wat die wêreld met sy passie vir God radikaal kom verander het. Wat die mooiste Skrif vir ons nagelaat het. Tog noem hy homself ’n ellendige mens en sê: “Die goeie dinge wat ek wil doen, doen ek nie. Maar die lelike dinge wat ek nie wil doen nie, doen ek.”

Gelukkig erken en kla Paulus nie net oor ons as mense se glyin-die-sonde nie. Hy gee ook aan ons hoop. Hy beklemtoon die Antwoord: Hy is saam met ons dankbaar oor die Gees in ons en die Man wat vir ons intree omdat ons self so swak is.

Dank Vader ons is nie alleen in ons regop-staan-stryd nie. Ons Verlosser het reeds vierkantig voor die sonde gaan staan en dit oorwin. En dag na dag tree Hy vir ons in. Meer nog, Hy het die Gees vir ons gegee wat keer op keer saam met ons stry, saam met ons leef. Saam oorwin. Dís die goeie nuus waarop ons ons geloof bou. Dag na dag.

Gaan leef vandag as God se regop-staan-kind omdat Hy ín jou is. So bring jy die Goeie Nuus aan die wêreld omdat Hy deur jou leef. En ander Hom in jou kan sien. Hoor. Voel.

Ek kan enige iets deur U doen. Enige iets deur U wees! Halleluja!

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.