Gedagte vir die dag: Ons is nooit dáár nie!

Boekevat_Tuin_Foto_Juanita_Geyer

Foto: Juanita Geyer

Selfs ’n boom het hoop. As dit afgekap is, sal dit weer groei en nuwe takke uitspruit. Al was sy wortels al oud op die grond en die stam dood in die stof, met die geur van water kan dit weer bloei en lote laat uitspruit soos ’n jong boom. (Job 14:7-9)

Die oomblik toe ek besluit het ek wil met sagter oë en groter deernis na mense kyk, kom ek agter hoe groot my eie onvermoë is. Hoe ek al deur die jare gekondisioneer geraak het om mense se swak punte raak te sien. En al kry ek dit soms reg om met groter deernis te leef, betrap ek myself gereeld dat ek maar weer sonder my Vader op my troontjie sit en daarom nié soos Hy kan leef nie.

Liewe vrou, moenie moedeloos word nie. Weet dat die Gees dag na dag weer oor begin met ons. Weer gister uitvee. Weer nuutmaak. Ons wéér die grootsheid van die liefde wil leer. Ja, onthou: Dis waarom ons Here Jesus gekom het. Om die manier hoe ons deur Hom kán leef, aan ons te demonstreer. Om dit wat ons nie kan wees nie, vír ons te kom doen. Om ons oor en oor te leer om minder “ons” en meer Hý te word.

Eendag. Eendag sal ons daar wees. Tot dan kan ons maar net elke dag weer probeer om met die sagtheid van ons Heiland te leef.

Hou my in U geplant – dan alleen sal ek die groen lote van goedheid uitspruit, Here.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.