Ons kerke is gesluit, waar is God? Sien Hom vandag raak by jou

(Foto: Nico van der Walt/Facebook.)

Deur ds. Nico van der Walt

Dit is Sondagoggend, 22 Maart 2020. Op die kop seweuur…

Gewoonlik is ek dié tyd is angstig-opgewonde oor die diens. Ek sien dan uit om al die mense vir wie ek in die laaste twee jaar so liefgekry het, ’n drukkie te gee, die hand te skud, elkeen in die oë te kan kyk en in daardie paar sekondes ’n stukkie van Jesus se liefde en joy te deel. En dit self ook te beleef.

Ek is op my senuwees, want nou-nou moet ek, brose klein mannetjie van stof, die trappies uitklim en ’n boodskap bring: “So sê die Here.”

Dit is die grootste voorreg om te kan preek, maar terselfdertyd ongelooflik scary. Ek hoor steeds vir prof. Fanie Snyman, vir wie ek baie lief is, sê: “Onthou, elk van julle word ’n teoloog – iemand met woorde oor God.”

Ek sê weer, dit sal altyd vir my ’n voorreg en vreugde wees om ’n teoloog te wees, maar glo maar vir my, iewers in jou – daar waar jy voor almal staan en of opklim na die trappies – besef jy die taak wat op jou skouers rus en hoe jy ook so bietjie soos Paulus en die tollenaar voel: “Here, wees hierdie sondaar genadig”.

Maar vandag is anders.

Vandag voel ek nie opgewonde of senuweeagtig nie. Eintlik weet ek nie presies hoe ek voel nie. Teleurgesteld? Vies? Magteloos? Soos die omgevalle muur? Dalk voel ek net so grys en mistroostig soos die misweer hier in Buffeljagsrivier.

Ek stap hek toe. Ek moet die papiertjie gaan opplak op die kerk se hek met die woorde “Geen Erediens” Met elke tree daarheen, breek my hart al hoe meer.

Ek sou nooit dink dat ek in my bediening dit ooit moes doen nie – die kerk “sluit”. Oor ’n onsigbare vyand wat al hoe nader kruip. ’n Onsigbare vyand wat ’n bedreiging inhou selfs al was daar hoe min of baie mense.

Mens probeer sin maak. Kyk wat gaan in Bloem aan, Nico. Net vyf mense was genoeg. Ja, vyf. Nie 100 nie, slegs 5!

Een persoon vandag in jou diens sou genoeg wees, en hoe gaan jy voel oor daardie geliefde persoon wat dalk deur jou toedoen, jou hardkoppigheid siekword. Selfs erger: dalk sterf. Die leë kerk in Italië met sy klomp kiste spring in my gedagtes op.

Soos ek magteloos en moedeloos die papiertjie opplak, kyk ek op. En verby die hek, verby die woorde “Geen erediens”, sien ek ons kerkie in ’n kolletjie sonstraal vasgevang.

Ons gaan oukei wees, besef ek toe.

My eie boodskap se woorde wat ek tot vervelens toe gehoor het, dring deur my: “Nét by God”. En die Here is ook nie nét vandag by jou “diens” nie.

Jesus het buitendien nie mense nét by die sinagoge geleer nie, want anders as baie van die Fariseërs en skrifgeleerdes en ander rabbis van sy tyd, het Jesus ons kom wys en leer God is nie net vasgevang in wette en sinagoges nie. Hy is oral – op ’n berg, in ’n huis, by ’n begrafnis, ’n troue, ’n kruis, ’n tuin… selfs op die pad.

God is oral en leer oral en doen oral. Hy is nie net op ’n Sondag tussen 09:30 en 10:30 by hierdie kerkie langs die N2 nie.

Geloof is ook nie ’n lysie wat jy moet aftik nie:

  • Das en baadjie… Check
  • Blink Stefaans-skoene… Check
  • Kids in die bakkie… Check
  • Leeromhulde Bybels… Check

Kerkdiens… Uhm… Agge nee… Ek maak dit nie… Nee, man!

Die leesroosterteks help ons vandag: God soek jou hart, nie jou check-lysie nie. Hou op daarmee. Gee jou hart.

Soek vir God, nét vir God, nie die lysie nie. Soek God in Jesus.

Sien Hom vandag raak by jou huis, tussen jou kinders, jou ouers, jou vriende. Hy is vandag dáár.

Hoor Hom praat vandag deur jou rekenaar of op jou skerm of foon of radio. Hy is by jóú. Bêre sy woorde vandag in jou hart, maak dit deel van jou lewe elke dag.

En ongeag wat gebeur… Sien sý lig raak wat deur jóú donker breek… Sien die rus, redding en veiligheid raak wat daar is vir jou.

Maar soos dominee Wollie van Bloem ook eenkeer gepreek het… “bid, vertrou, maar drink jou pille.” Vertroue en geloof het ook ’n mate van verantwoordelikheid en wysheid. Die Here het immers kundige mense die krag en verstand gegee om medisyne en tegnologie te ontwikkel.

So los jou wettiese lysie vandag en soek God. Soek Hom soos Dawid na Hom gesmag het, soos die Verlore Seun terugverlang het na sy pa. Soek ’n verhouding, want dit is wat God van jóú soek: jou hart!

En bid vir jou dominee, pastoor, geestelike leier wat vandag iewers sit en bitter skuldig en sleg voel… Ons het nie geleer hoe werk pandemies nie, maar ons het geleer om te alle tye, oor enige kanaal, en op enige plek woorde oor Jesus te kan praat. En God ook self te soek en Hom te ontdek – tussen die bladsye van sy ongelooflike Woord, maar ook in die veld, in mense, in pandemies…

Net by God.

  • Ds. Nico van der Walt is leraar aan die NG Kerk Buffeljagsrivier in Buffeljagsrivier, Wes-Kaap.
  • Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anel ·

Ds. ‘n Boer maak ‘n plan. Ek hoor presies wat u sê. Die mens is ‘n sosiale wese. Hy het interaksie met ander mense nodig. Ons het nodig dat iemand vir ons meer vertel van die Bybel. Ons wil die prediker sien. So moeilik as wat dit vir u is, so is dit vir ons as gemeentelede. In ons kerkgemeenskap het ons predikant ‘n plan gemaak. ( Tegnologie is wonderlik). Wel, Sondag kon ons sy preek regstreeks volg.Met hom op die preekstoel, met toga en al. Ons kon saam sing en tot tyd vir kolekte. Behalwe, dominee het vir leë kerk gepreek. So wonderlik as wat dit vir ons was, glo ek dat dit vir hom angswekkend moes wees. ‘n Eerste vir ons almal. Maar, so kon hy baie meer mense bereik, van siekes wat in die bed moes bly tot geliefdes wat in die buiteland is. Daarom sê ek, wat nog van die ou soort is en tegnologies gestremd is, vandag dankie vir tegnologie. Ds, dink so daaraan jou gemeentelede kan jou sien, waar hulle ook al is en u kan die woord van God soveel verder dra en soveel meer mense bereik

Yvonne ·

Dankie Here dat U ook die media gebruik vir U Woord…niks kan dit keer nie…Amen

Patches ·

More ander Yvonne, ek stem saam. Niks kan Sy woord keer nie!! Ons predikante lewer hul boodskap via Face book.!! Sterkte aan almal daar buite ,wees veilig ons gaan hier deurkom!

Frieda ·

Dankie dit is wonderlik om weer te lees dat Ons Hemelse Vader te alle tye en omstandighede langs ons, by ons en in ons is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.