Gedagte vir die dag:  Opdragte

Son_water_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Matteus 10:5-15

“Gaan verkondig: ‘Die koninkryk van die hemel het naby gekom’ ” (Matteus 10:7)

Jesus se opdragte aan die twaalf volgelinge wat Hy uitstuur, is dui- delik: Dáárheen gaan julle; dít verkondig julle; dít neem julle saam en dit nie. En só tree julle op teenoor hulle wat julle ontvang.

Eenvoudig, op die man af. En nogal moeilik vir ons, 21ste-eeuse Jesusnavolgers, om te verstaan. Wat nog te sê om uit te voer. Ons weet dat dit vir ’n spesifieke tyd en bepaalde omstandighede gegeld het. Hoor dan: “… moenie in ’n dorp van die Samaritane ingaan nie” (v. 5). “Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf bose geeste uit” (v. 8).

Tog sluk ons nogal swaar aan sommige van hierdie opdragte. Wat van dié een: Moenie geld saamvat of vir ekstra klere voorsiening maak nie; die mense na wie toe julle gaan, moet vir julle sorg? (vgl. v. 9-10).

Ons weet ook dat nie almal ewe graag na die evangelieverkondiging luister nie. Hieroor sê Jesus: “As iemand … nie na julle woorde luister nie, gaan uit sy huis of uit daardie dorp uit en skud die stof van julle voete af ” (v. 14). Sjoe.

Nou kom die vraag: Hoe lees ons ná twee duisend jaar dié gedeelte? En, straks belangriker, hoe tree ons as hedendaagse gestuurdes op? Ons is mos nie eintlik goed met genesings en duiwel- uitdrywing nie. En ons kan seker nie iemand verkwalik wat ons die deur wys nie. Nie in hierdie tyd nie …

Dalk is dit (voorlopig) die aangewese aksieplan, hierdie opdrag, wat sonder die minste twyfel net so op ons van toepassing is: Gaan verkondig die koninkryk! Doen dit met jou mond en met jou hele hart. En luister mooi na wat die Koning jou ook al sal sê.

Dankie, Here, dat U my met u koninkryksboodskap vertrou. Help my, asseblief !

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.