Reformasie 500: Vry om jouself te wees

Foto 3_Luther en sy gesin

Martin Luther en sy gesin. Foto: Verskaf.

Vanjaar vier miljoene protestantse Christene wêreldwyd die 500 jaar sedert Martin Luther op 31 Oktober 1517 sy 95 stellinge teen die kerkdeur van Witteberg vasgespyker het.

Dit was die begin van die Reformasie wat die kerklike en staatlike landskap onherroeplik verander het.

’n Tweede, net so belangrike gebeurtenis, as die gebeure op 31 Oktober 1517, was Luther se dapper woorde in die beskuldigdebank voor die Ryksdag van Worms. Op 18 April 1521 het hy onbeskaamd voor keiser Karel V, die Duitse prinse en Rooms-Katolieke biskoppe gestaan. Die streep was in die sand getrek. Luther moes sy geskrifte onvoorwaardelik herroep, hom onderwerp aan die gesag van die Rooms-Katolieke Kerk, of die gevolge van verbanning of die doodstraf dra. Luther se antwoord aan keiser Karel V en die biskoppe was reguit, nederig, onbeskaamd: “U keiserlike Hoogheid en ander geëerde here verwag ’n eenvoudige antwoord. Wel, hier is dit, eenvoudig en reguit. My gewete is ’n gevangene van God se Woord. Ek kan en sal niks herroep nie, want om teen my gewete op te tree, is nóg veilig, nóg geoorloof. Hier staan ek. Ek kan nie anders nie. God help my. Amen.”

Wat is die historiese agtergrond van hierdie woorde?

Keiser Karel V was die Duitse keiser van die Heilige Romeinse Ryk. Die grote en omvang van die Heilige Romeinse Ryk is deur die magspel van politieke alliansies tussen Europese koningshuise, kardinale en pouse bepaal. Die Heilige Romeinse Ryk het oor die staatsgrense van Italië, Frankryk, Brittanje, Spanje, Portugal, België en vele kleiner landjies gestrek.

Die keiser of koning was die beskermheer van die Rooms-Katolieke Kerk se absolute geestelike mag, en die Pous die bevestiger van die koning en keiser se aardse mag. Behoud van mag was die samebindende kultus en amptelike kultuur waaraan elke Christen hom of haar moes onderwerp. Gehoorsaamheid aan staat en kerklike magstrukture is afgedwing deur ’n dogma van boetedoening en teologie van vrees, of andersins deur staatsgeweld.

Foto 1_Luther se lessenaar

Luther se lessenaar. Foto: Verskaf.

Die magskultus het oor dekades gelei tot ’n innerlike verlamming, gedienstige onderdanigheid en gedwonge onderworpenheid aan magstrukture. Mettertyd het dit gelei tot ’n vervreemding tussen God en mens, individu en gemeenskap, ontkenning van ’n eie persoonlike en kulturele identiteit en ’n verlies aan vryheid van denke en spraak.

Tot op die dag dat ’n jong Duitse professor opgestaan het teen die magskultus van die Heilige Romeinse Ryk. Luther se protes was meer as ’n opstaan teen magsoorheersing en magsmisbruik. Dit was ’n opstaan vir vryheid. Vry om God in geloof te mag dien. Vry om egte mens te wees wat leef binne die liefdevolle ruimte van ’n genadige God. Vry om die Bybel self te mag lees en te interpreteer.

Deur die Bybel in Duits te vertaal, het Luther gewone Duitse burgers in staat gestel om in eie taal ’n geloofs- en kulturele identiteit aan die hand van Bybelse beginsels te ontdek en te bevestig. Die Bybel stel immers nie persoonlike of kulturele identiteit teenoor die uitlewing van Christenskap nie. Inteendeel, die Bybel maak mense vry om as egte mense hul persoonlike en kulturele identiteit binne die vryheid van Christus uit te leef. Christus wat identiteit na sy beeld hervorm, nie onderdruk of ontken nie.

Hierdie nuutgevonde geloofsvryheid was ook die begin van ’n ander soort vryheid, naamlik die vorming van vrye gemeenskappe. Geloofsvryheid het gemeenskappe verlos van ’n gelate onderdanigheid aan staatsmag. Gemeenskappe was vry om buite magstrukture vir hulself ’n gemeenskapsidentiteit te skep. Stadsrade, nie kerkrade nie, het gemeenskapsvryheid met ’n nuwe selfvertroue opgeëis en hulle burgers geestelik (deur die aanvaarding van Protestantisme) en polities losgemaak van die Romeinse Ryk. Die beste voorbeeld hiervan is Calvyn se Genève in Switserland. Geloofsvryheid het nie net kulturele vryheid en gemeenskapsvryheid gekonstitueer nie, maar gelei tot die strewe na vryheid van magsoorheersing en magsmisbruik.

Foto 4_Grafsteen van Luther in Wittenberg

Die grafsteen van Luther in Wittenberg. Foto: Verskaf.

Martin Luther se geloofsdaad en gewetensvryheid het ’n nuwe vryheid aan Europa en die wêreld gegee. Dit het nie sonder ’n duur prys gepaardgegaan nie.

In Duitsland het geloofsvryheid aanvanklik tot boere-opstande gelei, maar later jare tot die bloedige Dertigjarige Oorlog van 1618–1648 tussen Katolieke en Lutherane, waarna Duitsland eers erkenning gegee het aan geloofsvryheid.

Die Rooms-Katolieke koning Phillip II van Spanje het die protestantse Reformasie in Nederland probeer vernietig deur die Katolieke godsdiens met staatsgeweld af te dwing. Dit het gelei tot die Tagtigjarige Oorlog van 1568–1648 en die opkoms van die protestantse Koningshuis van Oranje onder leiding van Willem van Oranje. Vier jaar later, in 1652, het Jan van Riebeeck met ’n gereformeerde gebedskrif in sy hande ’n verversingstasie aan die Kaap gevestig. Die naam van die latere republiek, Oranje-Vrystaat, het erkenning gegee aan die strewe van kulturele en gemeenskapsvryheid teenoor ’n koloniale staatsoorheersing.

In Frankryk het die vrees vir verlies aan staatsmag gelei tot Bartolomeusnag van 23 op 24 Augustus 1572 waarin duisende Protestante vermoor is. Die gebeure het gelei tot die Edik van Nantes wat godsdiensvryheid en gewetensvryheid in Frankryk gewaarborg het. Dit het ’n glorietydperk vir Frankryk ingelei. Ná koning Lodewyk XIV se herroeping van die Edik van Nantes in 1685 het Franse Hugenote na die Kaap as ’n vrye protestantse gemeenskap gevlug en die reg op kulturele identiteit en godsdiensvryheid aan die suidpunt van Afrika gevestig.

Die magskultuur van die staat was uiteindelik magteloos teenoor die vryheid wat Luther in Christus gevind het.

Protestantse Christene vier met Luther 500 meer as die herdenking van 95 stellinge teen ’n kerkdeur. Ons vier die reg op vryheid om jouself te mag wees, diensbaar aan ’n liefdevolle en genadige God.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae