Gedagte vir die dag: Sien Sy gesag

Jesus_kleed_stiltetyd.jpg

Foto: freebibleimages.org

“Jong man,” het Hy gesê, “Ek sê vir jou, staan op!” Groot vrees het die skare oorweldig – hulle het God geprys. (Lukas 7:14, 16)

Dit moes fassinerend gewees het om Jesus te sien optree. Hy was nog ’n jong leermeester. In die Midde-Oosterse kultuur moes jy eers ’n gevorderde ouderdom bereik voordat jy werklik gesaghebbend kon optree. Jesus was jonk, net oor die 30. Tog het Hy opgetree soos iemand met groot gesag.

In die gedeelte oor die jong man van Nain wat uit die dood opgewek is, tref ’n paar dinge ons. In die eerste plek wys dit ons op God se groot, allesomvattende plan wat die omstandighede so beheer dat Jesus deur Nain se stadspoort stap op die presiese oomblik wat die begrafnisstoet die dorp verlaat.

Ons lees ook van die weduwee se geweldige hartseer nadat sy eers haar man en toe haar enigste seun aan die dood moes afstaan. Maar dan lees ons van Jesus se diep meegevoel, sy onbeskryflike wysheid, sy onbeperkte outoriteit en sy ongelooflike krag. Dit alles blyk uit die manier waarop Hy met die weduwee praat en haar seun uit die dood opwek.

Dieselfde Jesus is vandag in die hemel op die troon van sy koninkryk. Dit beteken egter nie dat Hy nou afwesig is van ons behoeftes nie. Inteendeel! Ons weet dat Hy steeds in ons omstandighede, deur die Heilige Gees en sy Woord, die Immanuel, God met ons, is. Ons pad is vandag ook sý pad. Dieselfde passie en meegevoel wat Hy vir die weduwee gehad het, het Hy ook vir jou. Hy is hier by ons en spreek sy wonderlike woorde in ons lewe in. Soos met die skare plaas dit ook ’n loflied op ons lippe.

Bron: Jesus se woorde vir elke dag deur Jan de Wet
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.