Gedagte vir die dag: Sing ’n nuwe lied!

 stiltetyd-musiek-kitaar-man.jpg

Foto: pixabay.com

Sing vir die Here ’n nuwe lied, want Hy het wonders gedoen. Hy het verlossing bewerk met sy krag en Goddelike mag. (Psalm 98:1) 

Hans Christian Andersen het gesê: “Waar woorde tekortskiet, praat musiek.” God kon ’n heelal geskep het sonder melodieë en stemme en die mens se natuurlike liefde vir ritme en musiek, maar Hy het musiek deel gemaak van ons menslike natuur omdat daar geen beter manier is om verlange, hoop en lof uit te druk nie. Musiek is aanbidding – en aanbidding (om die waarheid dat God lofwaardig is en elke greintjie musiek in ons verdien, te verkondig) is dit wat ons bestaan sin gee.

Jou musiektalent is dalk niks om oor huis toe te skryf nie. Maar maak jy nogtans musiek deel van jou lewe? Waarom sing jy nie soggens terwyl jy in die verkeer vassit of terwyl jy saans staan en kook vir Hom ’n loflied nie? Dis ’n onmiddellike vorm van aanbidding.

Musiek speel al sedert die dae van Pythagoras en Hippokrates ’n rol in geneeskunde. Neurowetenskaplikes het ontdek dat om na musiek te luister positiewe emosie in die brein se “beloningsentrums” verhoog en die afskeiding van dopamien stimuleer, wat ’n mens laat goed voel. Om na musiek te luister, stimuleer ook ander dele van jou brein wat ’n invloed het op stresverligting en verbeterde kognitiewe en fisieke prestasie. Musiek kan ’n noemenswaardige invloed hê op hoe intens ’n mens pyn ervaar en is baie effektief in die versorging van bejaardes en vir die bestuur van chroniese toestande soos fibromialgie en herstel ná operasies.

Bron: Soos appels van goud deur Dr. Michael Mol en Dalene Reyburn is die perfekte kombinasie van geestelike voedsel en fisieke welstand.
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.