Gedagte vir die dag: Soms is ’n mens sommer net bang

twee_mense_stap_sonsondergang_boekvat.jpg

Foto: jorgeschulz.wordpress.com

Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. (Jesaja 41:10a)

Daar is so baie redes waarom ons bang-hart-mense kan wees. Ons leef immers in ’n wêreld wat groot uitdagings aan ons stel, ons daagliks van verskillende kante af bedreig en ons soms weerloos laat. Daarby het ons elke dag te doen met finansiële en werkspanning wat sy tol eis.

Dalk is vandag een van daardie dae wat jy rede het om met vrees in jou hart te loop. Of miskien voel jy sommer net onrustig en onseker oor ’n klomp goed. Dan kan jy maar net weer onthou dat jou Vader self by jou is, dat Hy jou omstandighede en jou emosies ken en dat Hy juis in bang-voel-tye jou van sy teenwoordigheid verseker. Soos Lewis B Smedes gesê het: “Partykeer is dit nodig om verlore, beangs, verlate en alleen te voel as jy seker wil weet dat God by jou is en dat Hy jou vashou.”

Jy is nie alleen nie. Jy is nie uitgelewer nie. Jy is en bly steeds God se eiendom wat Hy te alle tye vashou. Hang vandag hierdie belofte van God om jou hart: “Ek laat jou oorwin met my regterhand wat mense red” (Jesaja 41:10d).

Vrees verander nie jou situasie nie. Dit steel net jou vrede en jou lewenslus. Bid vandag dat jy met vertroue sal lééf. Want jy weet: Hy is by jou.

Ek is bang, maar ek ervaar U hand onder my. Daarom het ek moed om vorentoe te kyk, Here.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Phillip ·

Julle het nie n iedee wat julle boodskap van dag vir my beteeken nie dit was soos n berg wat ek nie kan uitkilm nie n swaard oor my en van dag het julle my weer laat lig sien baie dankie vir van dag se boodskap

San ·

Dankie vir julle boodskappe elke dag – ek lees dit gereeld en dit beteken baie vir baie mense. Hou asb aan met dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.