Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd. (Ps 131:2-3)
Ons raak te maklik behep met dinge wat bo ons vermoë is. Ons beroep ons op ons intellektuele vermoëns en soek na logiese verklarings. En so wil ons ook met God en sy woord omgaan. In die proses verhef ons ons eie beskouinge tot standaard.
Die psalmdigter het tot ’n dieper insig gekom. Hy het ontdek dat al die wysneusige verklarings wat hoogmoedige mense kwyt raak op niks uitloop nie. ’n Mens kry eenvoudig net nie antwoorde op die dinge wat vir jou klein verstandjie te groot is nie. En hy het ook besluit om sy eie dikwels onverstaanbare omstandighede nie met allerlei slimmighede te probeer ontrafel nie. Hy het ’n ander, beter roete gevolg. Hy het by God rus gevind.
En hoe treffend verwoord hy nie die rus wat hy gevind het nie! Soos ’n kindjie by sy moeder. ’n Suigeling aan die bors van ’n sorgsame en beskermende moeder.
Hy sê hy het tevredenheid gevind. En dít is ’n mondvol! Wanneer ’n mens so rusteloos rondploeter om antwoorde op al die waaromvrae te probeer uitworstel, is jy allesbehalwe tevrede. Jy ervaar eerder ’n onvervuldheid, ’n leegheid, ’n onvergenoegdheid. Wat moet ’n mens doen as die kwelvrae jou teister?
Wat moet jy doen as jy hoor hoe mense allerhande verwaande uitsprake oor God maak? Die resep is eenvoudig: wag op die Here! Word rustig, soos ’n kind by sy moeder, en gee God kans om Hom in jou lewe te bewys.
Ek het op die skoot van my Vader tevredenheid gevind.