ToekomsVenster: Aanvaar mekaar

drukkie-paartjie

(Foto: Skitterphoto/Pexels)

“Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God.” – Romeine 15:7 (AFR83)

Ek het in ʼn gewone “konserwatiewe” huis grootgeword en is baie dankbaar vir die opvoeding wat my ouers aan my gegee het. Alhoewel ek reeds ʼn senior burger is, is dit steeds die vertrekpunt van waar ek die lewe tegemoet gaan.

Ek dank die Here vir Godvresende ouers wat net die beste vir my, my boeties en sussie wou gehad het. Te midde van groot opofferings, het hulle gesorg dat ons toegerus word vir die lewe en die eise wat dit aan ons sal stel.

Ek praat van baie jare gelede, ʼn tyd toe Suid-Afrika se konteks radikaal verskil het van dit wat ons tans beleef.

Ek maak geen geheim daarvan dat Suid-Afrika, ons eie en ons kinders en kleinkinders se toekoms, nie net vir my belangrik is nie, maar ook op die spel is. Ons het al dikwels verwys na die talle uitdagings waarmee ons gekonfronteer word en die eise wat dit aan ons stel. Ons voer nie ʼn eilandbestaan in hierdie land nie. Ons is deel van ʼn groter geheel, ons het ʼn gemeenskaplike belang in ʼn land wat veilig en gesond is. Ons sing dit “seën ons Here God, seën Afrika”.

My professionele loopbaan het as onderwyser begin.

Dit is eers veel later wat ek die Here as my persoonlike Verlosser en Saligmaker leer ken het en geweet het dat my kleintyddroom, naamlik om dominee te wees, nou ʼn werklikheid gemaak moet word.

Dit is egter ʼn storie vir ʼn ander dag en miskien deel ek dit nog met jou.

By die hoërskool waar ek aanvanklik handelsvakke aangebied het, was daar ʼn onderwyser wat my uitgenooi na ʼn geleentheid waar medegelowiges van alle agtergronde sou ontmoet en saam besin oor die toekoms van ons land. Ja, die gesprek oor Suid-Afrika en sy toekoms word reeds dekades lank gevoer.

My verbeelding is aangegryp. Dit was die heel eerste keer in my hele lewe dat ek die geleentheid gehad het om met medegelowiges interaksie te hê. Benewens die feit dat die kongresgangers verskillende kerke verteenwoordig het, het hulle ook van ander kulture as die waarvan ek deel is, gekom.

Een ervaring het my deur al die jare bygebly.

Tydens ʼn breuk tussen twee sessies kuier ek met ʼn klompie van my medegelowiges en dink na oor die inhoud wat aan ons oorgedra is.

Dit is toe dat een van die kongresgangers, ek onthou dit was ʼn jong meisie, die volgende opmerking maak: “Julle kom na ons met arms wat toegevou is, nie om te omhels en te verwelkom nie, maar op ʼn afstand te hou. As ons Suid-Afrika wil red sal ons ons arms vir mekaar moet oopmaak en mekaar omhels.”

Hierdie omhelsing is natuurlik nie maklik nie, gegewe ons agtergrond en opvoeding, ons verstaan van hierdie wêreld en ons geskiedenis nie

Miskien sukkel ons in Suid-Afrika omdat gelowiges van diverse agtergronde mekaar nog nie regtig omhels het ten einde so die toekoms saam tegemoet te gaan nie. Lê die kortsluiting nie by die “kerk” nie?

Immers, in Johannes 17 bid Jesus spesifiek oor hierdie saak.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.