ToekomsVenster: Al hoe meer soos Jesus

(Foto: Juanita Badenhorst)

“God het Hom oor ons ontferm en hierdie bediening aan ons opgedra. Daarom word ons nie moedeloos nie.” – 2 Korintiërs 4:1 (AFR83)

Kinders van die Here is ook mense en die volle spektrum van gebeurlikhede wat ander mense te beurt val, kom ook op ons pad.

Daar is tog wel ʼn verskil. Die troue Verbondsgod besluit tot hoe ver en nie verder nie. Hy besluit in watter mate ons beproef kan word.

Hierdie beproewinge is ook nie sinlose tydvermorsing nie. Dis alles deel van die karaktervormende werk van God in ons lewens. Ons word al hoe meer soos Jesus, ons Mentor en Leidsman. Hebreërs leer juis, die oë gevestig op Jesus, die begin en die Voleinder van die geloof. Vir hulle wat God liefhet werk alles tog ten goede mee, nie waar nie.

“Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.

 In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.

Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam.

Voortdurend word ons wat lewe, ter wille van Jesus uitgelewer aan die dood, sodat ook in ons sterflike bestaan die lewe van Jesus sigbaar kan word.” – 2 Korintiërs 4:7-13 (AFR83)

Ons wat hierdie skat in ons het: Die skat waarna verwys word, is die ewige lewe, die belofte van God se teenwoordigheid in ons lewens en die salwing en seën wat op ons lewens rus

Kleipotte wat maklik breek: Kleipotte is breekbaar, broos, tydelik. Kleipotte is daar terwille van die inhoud. Kleipotte breek maklik, ons eweneens. Somtyds dink ons dat ons alles onder beheer het, maar die lewe en die goed wat gebeur bewys ons gou verkeerd. Dalk is jy op ʼn plek waar jy gebrokenheid beleef.

Die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie: Die krag van die Heilige Gees stel ons in staat om in oorgawe en oorwinning te leef. Ons krag is menslik, beperk en nie noemenswaardig nie. Ons is radikaal afhanklik van die bemagtiging wat die Gees van God gee.

In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie: Die kontras is belangrik, gerusstellend, bemoedigend en waar. Op allerlei maniere beleef ons die gebrokenheid van die teenswoordige tyd, sonder twyfel. Tog bly ons nie lê nie, die duiwel wil soos in ʼn boksgeveg ons uit tel, maar ons vind die genade om weer en weer op te staan.

Ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie: Die skrywer Jakobus nooi ons uit dat ons God kan vra vir wysheid. Hy gee sonder om te verwyt. Hy is die verpersoonliking van wysheid. Hy weet alles en wil ons in waarheid en onderskeiding lei.

Ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie: Die konteks van die gedeelte is uiteraard die vervolging waaraan die Nuwe Testamentiese kerk onderworpe was. Daar is lande in die wêreld waar gelowiges ʼn geweldige groot prys betaal vir hul belydenis dat Jesus die Here is.

Op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie: Ons mag gekneus, bebloed en verniel uit die geveg klim, maar ons word nie vernietig nie. Dink aan die baie ontberinge wat Paulus moes verduur. Te midde van dit alles het hy altyd weer die genade gevind om op te staan en voort te gaan met die bediening waartoe die Here hom geroep het.

Miskien kan jy intens met hierdie gedeelte identifiseer op hierdie stadium van jou lewe. Sterkte. God is getrou, altyd en onder alle omstandighede.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Here ek kry my krag van U af…dankie Here dat ek ook so elke stukkende mens by U voete kan kom neerle…Amen

ILONA ·

Dankie Here dat ons ‘n lewende regverdige God kan dien en loof tenspyte van ons stukkende wereld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.