ToekomsVenster: As jy wakker lê

(Foto: Abdülkadir Vardi/Unsplash)

“As ek aan U dink op my bed, oor U peins in die nag, dan weet ek: U is vir my ʼn hulp, en dan juig ek oor die beskerming onder u vleuels.” – Psalms 63:7-8

Om wakker te lê as jy ʼn behoefte het aan slaap is nie ʼn lekker ervaring nie. Ek glo ons almal het al iets daarvan beleef.

Sommige mense is geseënd – as hul kop die kussing raak, is dit droomland toe.

Ander het tyd nodig voordat hulle aan die slaap raak. Dit kan frustrerend wees.

Soms word jy egter wakker gedurende die nag en kan net nie weer aan die slaap raak nie. Jy lê en rondrol en verwens die horlosie wat nie vinnig wil aanstap nie. Dit voel soos ʼn uur gelede maar skaars vyftien minute het verloop vandat jy laas gekyk het.

Die digter wil ons aanmoedig om sulke tye as geskenke en geleenthede te beskou. Om nie angstig te word nie, maar in die Here te ontspan.

Haal diep asem en praat met die Here.

Dank Hom vir die lewe en die geleenthede wat na jou toe kom.

Dank Hom vir die veiligheid van jou huis en die gemak van jou slaapvertrek.

Loof Hom dat Hy daar is, by jou, in jou.

Vertel Hom van jou dag, die een wat verby is en die een wat voorlê. Praat uitdagings met Hom deur.

Vra raad en toets jou verstaan aan sy Woord. Doen voorbidding.

Daar is mense aan diens in die nagtelike ure wanneer jy nie kan slaap nie, nood- en ander personeel.

Daar is ander mense wat wakker lê. Hulle konteks verskil egter dramaties van joune. Hulle is deurtrek van pyn, elke asemteug is ʼn worsteling.

Lees jou Bybel. Luister na geestelike musiek. Daar is merkwaardige preke op die internet. Daar is kontekstuele inligting wat die Bybel interessant en verstaanbaar maak. Daar is toepassings wat jou help om te bid, te mediteer, naby aan die Here te kom.

Glimlag vir die Here. Vertel Hom dat Hy kosbaar is, dat jy geseënd is om in ʼn wêreld van ongeloof

Iemand het om mee te praat wat nooit weg is nie. Nie in die dag nie, nie in die nag nie. Die Beskermer van Israel sluimer of slaap nie. Hy is altyd wakker, ook wanneer jy wakker lê .

Neem jouself dit voor: “Dit was die laaste vermorste wakkerlê wat ek gehad het. Ek gaan dit as ʼn  gawe benut en myself in die Here verlustig”.

Moenie verbaas wees as jy in die oggend vrolik en vars en opgewonde die dag wat voorlê tegemoet gaan nie!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.