ToekomsVenster: Beginsels vir ʼn gelukkige lewe; was dié brandreuk af

vuur

Foto: Marko Horvat/Unsplash.com

Daar is veral twee tipes brandreuk wat opval.

Braaivleis se brandreuk aan die klere van die mense wat “gebraai” het, is nie sleg nie. Jy weet sommer dadelik waarmee die manne besig was en staan jaloers eenkant terwyl jou mond water. Dis nou as ʼn mens wat met behoorlike hout braai soos Hardekool, Kameeldring of Sekelbos.

Veldbrand se reuk is anders. Dis oorweldigend, onwelriekend, onvriendelik en deurdringend. Jy was dit nie sommer af nie.

Ek sien van waar ek woon hoedat Suid-Afrika se “wintersport” weer momentum kry. In die vlakte styg dik wolke van brandende gras, veldstruike en bome die lug in. Kom die winter moet alles mos brand.

Ek verstaan dit nie.

Toegegee, die eerste groei na ʼn vernietigende brand is mooi en bemoedigend maar die swartgrys vlaktes is neerdrukkend en onaantreklik. Dis doods en depressief. Dis nie net die gras wat vergaan nie, honderde spesies lewe bo en onder die grond is daarmee heen. As jy die taak opgelê is om brand te slaan weet almal dit agterna. Jy ruik na brand, jou aroma is nie iets wat ʼn mens in ʼn spuitkannetjie wil vasvang en in supermarkte verkoop nie.

Twee soorte reuke. Een getuig van feesvreugde, lekker eet en kuier, laataand vriende wees en die lewe vier. Die ander getuig van vernietiging, geweld en doodsheid.

Watter reuk kleef aan jou klere? Waarmee is jy besig? Bring dit lewe of bring dit doodsheid?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Agie ·

Baie sleg wanneer weiding brand. Daardie reuk maak my reageer!!!!!!
Ek bid dat Vader ons genadig is en die broodnodige veldgras bewaar. Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.