ToekomsVenster: Daar is nie ’n kortpad nie

berading-01

(Foto: Joe Houghton/Flickr.com)

“So is vervul wat deur die profeet Jesaja gesê is: ‘Hy het ons lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra’.” – Matteus 8:17

Elisabeth Kübler-Ross het ʼn interessante en relevante skema wat sy gebruik om die verwerking van trauma en verlies in mense se lewens te beskryf.

Wat dadelik duidelik is, is dat trauma nie sommer oornag verwerk word nie.

Die fases wat beskryf word, is ook nie noodwendig linieer in die sin dat as jy by al die stasies aangedoen het die trauma vir altyd afgehandel is nie. Somtyds keer ʼn mens terug na ʼn vorige fase voordat jy weer jou pad vind.

Ek noem die verskillende fases hier ter wille van die belangrikheid en relevansie daarvan:

  • Ontkenning: In hierdie fase dring die werklikheid nie tot die persoon deur nie. Die lewe maak nie sin nie en jy wonder hoe jy daarmee kan aangaan. Dit is ʼn belangrike fase wat ons voorberei vir die res van die reis.
  • Woede word uitgedruk teenoor enige party wat dalk verantwoordelik gehou kan word, selfs al is hulle onskuldig. Woede en die belewing daarvan is ʼn gawe en moet nie ontken of veroordeel word nie.
  • Onderhandeling: In hierdie fase word denkbeeldige ooreenkomste gesluit as die situasie net omgekeer kan word. Ons sukkel om met die verlies te deel en voel skuldig dat ons dalk iets daaraan kon gedoen het.
  • Depressie gebeur wanneer ʼn gevoel van moedeloosheid en wanhopigheid begin toesak. Die gevoel van depressie is nie ʼn teken van een of ander psigologiese afwyking nie, maar ʼn noodwendige gevolg van die werklikheid waarmee ons konfronteer word.
  • Aanvaarding gebeur wanneer die onafwendbare aanvaar word en die oë op die toekoms gerig word.

Dawid Kressler onderskei, in samewerking met Elizabeth, ʼn sesde fase en dit is betekenis. Die lewe van die persoon, die betekenis van die saak of wat dan ook al aanleiding gegee het tot die trauma word geïntegreer in die lewe en gevier.

Jy mag self tans iewers in en met hierdie oomblikke besig wees ten einde jou trauma af te sluit.

Soos reeds gesê is dit belangrik dat jy jouself tyd gun om deur die hartseer te werk. Familie, vriende en kollegas moet eweneens die betrokke persoon met deernis en begrip hanteer, sonder om die proses te probeer verhaas.

Lees meer oor die verwerking van verlies op Grief.com.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.