ToekomsVenster: Die ander stem

luister-na-God

(Argieffoto.)

“Moses was baie verbaas oor wat hy sien, en toe hy nader gaan om te kyk wat dit is, hoor hy die stem van die Here.” – Handelinge 7:31 (AFR83)

Gister het ons gesels oor die stemme wat in ons koppe, soos wasgoed in ʼn wasmasjien, teen hoë snelheid in die rondte draai.

Die gemengde boodskappe neem ons oor, dit bepaal ons lewens, dit beïnvloed ons besluite, dit voed ons vooroordele en vrese, dit bevestig ons agterdog.

Tog is dit waarskynlik, indien nie alles nie, leuens, onsin, onwaarhede, bedrog, die stem van Goliat wat bulder teenoor ʼn oënskynlike weerlose Dawid.

Ons is egter nie weerloos nie. Daar is ʼn ander stem, maar ʼn mens moet oefen om dit te hoor. Dit is die stem van die Heilige Gees.

Die Here praat, Hy praat graag en gereeld. Hy praat eintlik sonder ophou, gedurig, onophoudelik, tog positief, opbouend, rigtinggewend, ondersteunend, somtyds teregwysend, maar altyd in liefde.

Die Bybel het baie te sê oor die stem van die Here.

Die Psalmdigter raak liries oor die stem van die Here.

“Die stem van die Here is magtig, die stem van die Here is vol majesteit.” − Psalms 29:4 (AFR83)

“Telkens wanneer Moses in die tent van ontmoeting ingegaan het om met die Here te praat, het hy die stem van die Here met hom hoor praat.” – Numeri 7:89 (AFR83)

“Daar sien ek toe die magtige verskyning van die God van Israel uit die ooste uit. Die stem van die Here was soos die gedruis van baie waters, en sy magtige verskyning het die hele aarde verlig.” – Esegiël 43:2 (AFR83)

Een van die besondere tekste wat met die stem van die Here verband hou, is die een wat beloof dat in oomblikke van twyfel en beslissing die Here pad sal wys.

“Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ʼn stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs’.” – Jesaja 30:21 (AFR83)

Om die stem te hoor en te midde van ʼn veelheid van stemme te onderskei, neem oefening.

Soms hoor jy reg, soms hoor jy maar dit is nie die Here nie.

Ten minste leer en groei jy in onderskeiding.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gert ·

Die Here praat en beweeg met jou in jou lewe teen dieselfde tempo as wat jy in Sy Woord aktief is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.