ToekomsVenster: Die Bybel praat ook van rus

(Foto: Javon Swaby/Pexels)

“Ons wat glo, gaan wel in die rus in, maar hulle nie, soos God gesê het: ‘Toe het Ek in my toorn ʼn eed afgelê: In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie’.” – Hebreërs 4:3 (AFR83)

Ons het pas Goeie Vrydag en Opstanding Sondag gevier. Nou ja, vir baie was dit ʼn heerlike wegbreeknaweek en daarmee is daar nie fout te vind nie.

Die jaar het met ʼn spoed weggetrek en ʼn mens kan nie glo dat ons reeds in die middel van April is nie. Dit voel asof die lewe al hoe vinniger raak en ʼn mens vind dit moeilik om by te hou. Om dus weg te breek en tot rus te kom, is broodnodig.

Die Bybel praat ook van rus. God het in Christus Jesus vir ons rus voorberei.

Die volk van God in die Ou Testament word juis verwyt dat hulle, ten spyte van die uitnodiging, die rus nie binne gegaan het nie.

Die rus waarvan die Bybel praat is nie ʼn fisiese rus in die eerste plek nie, maar ʼn geestelik-emosionele rus. Dit is enersyds rus van sonde en ongeregtigheid en andersyds rus in die wete dat ons name geskryf staan in die boek van die lewe en van die Lam.

Vir Suid-Afrika beteken dit rus van gespanne interpersoonlike verhoudinge, vooroordeel en vrees wat op die spits gedryf word. Dit is rus van alle vorme van kriminaliteit, onregverdigheid, korrupsie, misdaad en geweld.

Suid-Afrika is vuisvoos van al die houe wat burgers in hierdie samelewing moet verduur. Die samelewing is in die woorde van Mattheus “moeg en oorlaai”. Te midde van sulke omstandighede kom God na ons toe met ʼn uitnodiging om sy rus binne te gaan.

Hierdie is ʼn aktiewe rus soos wat God sy Skeppingswerk voltooi het en rus. Hy is egter steeds onderhoudend met ons besig en het nie sy rug op ons gedraai sodat ons maar moet “sien en kom klaar” nie. God is intens betrokke by die wel en weë van sy mense.

Die rus waartoe God ons uitnooi is ʼn aktiewe rus Dit is ʼn rus wat ander mense nooi om saam te rus, saam te reis, saam te bou, te skep en te herskep.

Dit begin egter by persoonlike rus. Jy kan nie ander mense uitnooi na iets wat jy nie self beleef nie.

Eers wanneer hierdie rus waar geword het in jou lewe, het jy die energie en oortuiging om ander te nooi om die reis met jou te deel.

Uiteindelik, wanneer God dit goed dink sal ons die ewige rus tegemoetgaan.

Ons wil die mense wat deel van ons verwysingsraamwerk vorm nie daar soek en nie vind nie.

Maak seker dat hulle deel van die geselskap sal wees.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

WILLEM ·

God het self met die skepping gesê – 6 dae moet hy werk maar op die 7de dag moet jy rus Hoe lyk ons Sondae deesdae – dis ‘n gejaag om meer geld te maak – geen wonder die wêreld is in so’n toestand nie.

Yvonne ·

Here ons kom nie tot rus nie want ons ken U nie meer nie….ons het begrip verloor oor met WIE ons te doen het….ons bede is open oe en ore…tot lof, eer en dank aan God…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.