ToekomsVenster: Die gelykenis van die boere en die wingerd

wingerd

Foto: Ales Me/Unsplash.com

Jesus het voortgegaan om in gelykenisse met hulle te praat en gesê: “’n Man het ‘n wingerd aangeplant en ‘n klipmuur daar rondom gebou. Hy het daarin ook ‘n parskuip uitgekap en ‘n wagtoring opgerig. Toe het hy dit aan boere verhuur en daarvandaan weggegaan. Op die vasgestelde tyd het hy ‘n slaaf na die boere toe gestuur om by hulle sy deel van die wingerd se opbrengs te kry. Hulle het hom egter gegryp en geslaan en met leë hande weggejaag. Daarna het hy ‘n ander slaaf na hulle toe gestuur. Hulle het hom oor die kop geslaan en hom uitgeskel. Hy het nog ‘n ander een gestuur en vir hom het hulle doodgemaak. Later het hy nog baie ander gestuur; hulle het party geslaan en ander doodgemaak. Hy het nog net een oorgehad, sy geliefde seun. Heel laaste het hy hom na hulle toe gestuur met die gedagte: hulle sal tog my seun ontsien. Maar daardie boere het vir mekaar gesê: ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons maak hom dood; dan sal die erfenis ons s’n wees.’ Hulle het hom toe gegryp en doodgemaak en hom uit die wingerd uitgegooi. “Wat dink julle sal die eienaar van die wingerd nou doen? Hy sal kom en die boere om die lewe bring en die wingerd vir ander mense gee. Julle het tog al in die Skrif gelees: “Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword. Dit is deur die Here gedoen en is ‘n wonder in ons oë.” Hulle het toe na ‘n plan gesoek om Hom te laat vang, want hulle het besef dat Hy met hierdie gelykenis op hulle gesinspeel het. Maar hulle was bang vir die mense en het Hom laat staan en weggegaan. – Markus 12:1-12

Jesus is besig om die mense op sy naderende dood voor te berei. Nadat alles gebeur het sal hulle nodig hê om daaroor na te dink en dit te interpreteer. Miskien sal hulle wat nou nie duidelik is nie dan beter verstaan.

Die Godsvolk onderskei homself daarin dat hulle die boodskappers wat God deur die eeue gestuur het meer dikwels geminag en verdag gemaak het. Die teks sê dat hulle selfs doodgemaak is, eerder as dat mense na hulle geluister het nie.

Die boodskap maak mense ongemaklik. Die lig stel die duisternis aan die kaak. Die duisternis hou nie daarvan nie. Die aaklige werklikheid van die vernietigende werk van die duisternis gedrewe deur die selfsugtige en self verrykende motiewe van die duisternis is bekend.

Ook in ons dag hou baie mense nie van die waarheid nie. Hulle verontskuldig hulle al staan meer as sewe honderd aanklagte van korrupsie teen hulle naam ingeskryf.

“Wat het ek verkeerd gedoen” getuig van die moedswillige blindheid van eiegeregtige mense wat met die Waarheid niks te make wil hê nie. Dit skree ten hemel. Oral in ons samelewing kry ons mense wat die waarheid teëstaan. Ook kinders van die Here kry dit reg om hulle te verontskuldig eerder as om daaraan toe te gee.

Uiteindelik stuur die eienaar, die een wat ʼn regmatige aanspraak op die oes het, na alles dit is sy wingerd, land, insette, versorging, sekuriteit, die oes is duidelik vir hom geoormerk, sy seun in die hoop dat hulle hom darem sal ontsien. Dit gebeur egter nie. Die ongeregtigheid stroom voort as hulle die Seun aan ʼn kruishout vasspyker eerder as om toe te laat dat die lig hul oorweldig en die duisternis verdryf.

Watter impak het die Evangelie op jou? Hoe het dit jou lewe verander?

Hoe hoor, luister gehoorsaam en konkretiseer jy die Woord wat lewe in jou wil wek soos dit na jou toe kom? Kruisig jy die boodskapper eerder as om gehoor te gee?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.