ToekomsVenster: Die gesig van armoede

Foto: Pixabay

… want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek. – Matt. 25:35-36

As iets eers op sosiale media sy verskyning gemaak het kry jy dit nie “nek omgedraai nie”. Dit is die geval met ’n boodskap wat tans weer met energieke momentum aangestuur word sonder om oor die feite navraag te doen.

In die spesifieke boodskap word verbeeldingryk verwys na ’n gemeenskap wat in die omgewing van Krugersdorp woon.

Dat daar swaarkry onder die mense is, is nie te betwyfel nie. Dat hul lewensomstandighede vêr van ideaal is, is waar. Dat daar na hulle uitgereik moet word kan nie betwyfel word nie.

Feit van die saak is dat die spesifieke boodskap sy ontstaan in Desember 2016 het. Sedertdien doem dit weer en weer op en word stellings gemaak wat met niemand kontroleer is nie. Een daarvan is dat predikante in die omgewing nie bereid is om na die mense uit te reik nie.

Uiteraard word die predikant of gemeente se naam nie genoem nie.

Ek het ’n probleem hiermee omdat ek in die omgewing woon en vir baie jare vertroud is met die lotgevalle van die mense.

Weereens, dit is hartseer en pynlik wanneer mense swaarkry en wanneer dit sogenaamde “jou mense” is, kom dit nog baie nader.

Armoede is nie mooi nie. Daar is meer as 14 miljoen mense wat daagliks wonder waar die volgende bord kos vandaan gaan kom. ’n Kind wat honger is gryp ’n mens aan die hart, maak nie saak wie dit is en waar hy woon nie.

Gemeenskappe soos die waarna ek verwys dra baie bagasie. Mense met goeie bedoelings ry verby en lewer kos, klere en ander benodigdhede af. Dan is hulle weg.

Die volgende konvooi stop en doen dieselfde.

Dat wat afgelewer is inderdaad by die “swaarkry adresse” uitkom word nie gekontroleer nie en dit gebeur ongelukkig ook nie elke keer nie.

Uitreikingsaksie wat goed bedoel word doen dikwels meer skade as goed.

Daar is betroubare en geloofwaardige bedienings en ondersteuningsgroepe in ons en elke omgewing deur wie gewerk kan word. Op die manier word ondersteunings hulp verantwoordelik uitgedeel.

Jy het sekerlik die reg om jou pakkie vir ’n sekere groepering mense te oormerk, immers, dit is joune om uit te deel.

Kontroleer dan ten minste die inligting soos in hierdie geval waar ek binne enkele oomblikke op die einste sosiale media kon sien dat die inskrywing argaïes en lank nie meer relevant, as dit hoegenaamd geloofwaardig was, is nie.

As Christen het ek in elk geval ’n ongemaklikheid oor die oorsprong van die boodskap.

Ek wonder wat sou Jesus gedoen het?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Here ons wat soms staatmaak op wat ons hoor word soms gruwelik teleurgestel….U weet van elkeen wat vandag worstel met armoede met werk met siektes….ons bring hulle in gebed tot by U voete…Amen

Anoniem ·

Sowat vier maande gelede was daar ‘n geval waar ‘n man aan die Oosrand geld van ‘n predikant ontvang het. Daar is later vasgestel dat hy die predikant mislei het. Dit is betreuringswaardig dat daar sulke mense in ons gemeenskap is. Ek gee graag maar doen eers vooraf my huiswerk.

Windhond ·

Die gee van benodigdhede, word eintlik bepaal deur die vrygewigheid van die skenker en sy of haar se persoonliheid en geloof in die Woord van God wat dit vir ons duidelik maak hoe ons moet optree wanneer ons in die teenwoordigheid van sulke gevalle is, maar op die einde van die dag doen die meeste mense die goeie dade , omdat dit n mens beter laat voel omtrent jouself as jy dit doen met n ope hart, – n mens moet ook goed lverstaan dat Matt 25 nie se n mens moet geld gee aan , – die wat honger, dors of haweloos is nie, maar wel daardie persoon se onmiddelike nood aanspreek en verlig, want bitter min van geld sal by die behoeftiges uitkom, en veroorsaak partykeer meer probleme as wat die mense reeds mee worstel, Daar ook natuurlik die entrepeneurs onder die behoeftiges wat dit makliker vind om God se voorbeelde te gebruik om gegoede lede van die gemeenskap te word deur met n kennisgewing om die nek te staan – maar dis n storie vir n ander dag………

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.