ToekomsVenster: Die heerlikheid van God

liggies-glas-strand

Foto:
Andrew Bui/Unsplash.com

Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is. – 2 Korintiërs 3:18

Die “sluier” in die teksvers verwys uiteraard na Moses se ervaring op die berg Sinai.

Na sy ontmoeting met die lewende God het sy gesig van heerlikheid gestraal. Dit kan tog ook nie anders nie, wie in die teenwoordigheid van die God van hemel en aarde was, kan dit nie wegsteek nie.

Die volk kon nie na Moses kyk nie en ten einde hulle die verleentheid te spaar het Moses sy aangesig bedek. Algaande egter het die glans verdwyn en het Moses weer die bedekking afgehaal.

Ons as nuwe Testamentiese gelowiges leef elke oomblik van ons lewens in die teenwoordigheid van God. Die middelmuur van skeiding is afgebreek, die sonde is versoen deur Jesus se bloed en die allerheiligste teenwoordigheid van God staan vir ons oop.

Ons hoef nie te vrees dat die heerlikheid sal verdwyn nie, inteendeel, net mooi die teenoorgestelde gebeur.

Namate ons Hom beter leer ken, deur die Heilige Gees die Christuskarakter vertoon, neem die heerlikheid eerder toe. Ons verander al hoe meer om soos Jesus te wees.

Is jy bewus van so ʼn werk in jou lewe, weliswaar nie jou eie poging nie maar deur die Heilige Gees en tog terdeë bewus daarvan dat iets besig is om te verander?

Die woorde “ons almal” is eweneens betekenisvol. Dit is nie waartoe net ʼn sekere groep mense uitgenooi word nie maar almal wat hulle op die genade van God in Jesus Christus beroep. Dit is tog waar die eenheid van die Liggaam van Jesus Christus inkom.

Ons was in die verlede so geneig om te besluit wie “in is” en wie “uit”. Hoogmoed hoort nie by die kinders van God nie. Alles, alles is genade, onverdiende guns alleen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank ·

Jannie, om mense aan te raak met skrywes moet mens ‘n goeie taalkennis het en vermoë om jou gedagtes in woorde om te sit, wat nie altyd maklik is nie. Partkeer wil jy prentjies vir mense teken!! Jy het egter daardie gawes by die Here ontvang.
Jy het dikwels ‘n sin in jou skrywes wat vir my uitspring oor die manier wat jy dit sê, wat mens met nuwe oë na ‘n aspek laat kyk. Hierdie keer was dit in besonder: “wie in die teenwoordigheid van die God van hemel en aarde was, kan dit nie wegsteek nie”.
Laat ons dan ook Sy heerlikheid met nuwe ywer vandag uitstraal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.