ToekomsVenster: Die Here is by jou

(Foto: Christopher Sardegna/Unsplash)

Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom! – 1 Tessalonisense 5:23

Hierdie is ʼn pragtige gebed uit die hart van Paulus vir die Gemeente in Tessalonika. Dit is ook ʼn pragtige gebed wat ons ook vir mekaar kan bid.

Die gebed begin met die sleutel tot ʼn lewe wat saamhang en van geestelike integriteit getuig. God, deur die Heilige Gees en die inwonende Christus maak so ʼn lewe moontlik. Buite Hom is daar geen lewe, trouens geen bestaansmoontlikheid nie.

Uit Hom, deur Hom en tot Hom is alle dinge. God bo ons, langs en onder ons, in ons en onder ons lui die mooi seënbede wat dikwels vanaf ons kansels gebid word. Trouens, kom ons lees dit saam met mekaar, ʼn seënbede van die vroeë kerk.

SEËNBEDE VAN DIE VROEË KERK

Die Here is voor jou om die pad gelyk te maak.

Die Here is langs jou om jou hand vas te hou.

Die Here is agter jou om die Bose te verslaan.

Die hand van die Here is onder jou om jou te dra as jy swak is en jou op te help as jy val.

Die Here is rondom jou om jou te beskerm.

Die Here is bokant jou om jou te seën.

Die Here is binne-in jou, want Hy lei jou deur sy Heilige Gees.

Die Here is vir jou, want Jesus pleit vir jou.

Die Drie-enige God is by jou, van nou af tot in ewigheid.

Amen.

Volkome toegewy en onberispelik wanneer die Here weer kom. Die Boodskap vertaling is amper prentjie mooi: “silwerskoon en sonder ʼn spikkeltjie sonde in ons lewens”.

Uiteraard lê so ʼn lewe nie binne ons vermoë nie, dit is die gawe wat God skenk in en deur die offer wat Jesus namens ons gebring het. Daarmee het ons status voor God dramaties verander van helverdiende sondaar tot regverdige, heilige, eiendom van die Vader.

Ons het ons lewe aan God te danke, daaroor kan daar geen twyfel wees nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat U kruis dood my van my sonde verlos het…..en ek verdien niks daarvan nie…net genade…Amen

Riana ·

Dankie Hemelse Vader vir U konstante genade, sonder U in my lewe is ek niks Amen ????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.