ToekomsVenster: Die Here werk, al sien jy dit nie

(Foto: Aaron Burden/Unsplash.)

Esra 7:27-28 – Esra het toe gesê: “Geloof sy die Here, die God van ons voorvaders! Hy het die koning die besluit laat neem om die tempel in Jerusalem so goed toe te rus, en Hy het my die goedgesindheid van die koning, van sy adviseurs en van al sy magtige amptenare laat geniet. Ek was vol moed. Die Here my God het sy hand oor my gehou. Ek het toe die leiers onder die Israeliete bymekaar laat kom om saam met my te trek.”

Ek herinner my dat die ou mense altyd gesê het “God slaap nie”. Ja, dit is inderdaad ʼn akkurate opsomming van Ps. 121 waar vertel word van ons God wat nie sluimer of slaap nie. Ek is ook seker jy is vertroud met die uitlating, “sien is glo”. Dit het ʼn siniese vetrekpunt en getuig van iemand wat dikwels teleurgestel is. Nou het die teleurstelling gegroei tot op ʼn punt waar die persoon nie meer wil glo tensy hy met sy fisiese oë sien nie.

Dit werk egter nie so in die geloofslewe nie. By God is dit meermale “glo is sien”. Geloof is ʼn belangrike voorwaarde as ons die hand van die Here in beweging wil sien. Sonder geloof, sê die Bybel, kan die Here nie behaag word nie. Die regverdige, God se kind, moet leer om uit die geloof te lewe.

Geloof is om te handel selfs al sien jy nie. In die geval van die aartsvaders is sommige van die beloftes wat aan hulle gemaak is eers in hul nakomelinge se tyd vervul. Dit getuig van ʼn vertroue in die goeie bedoelinge van God wie se Woord vas staan.

Esra beleef die merkwaardige ding dat die koning van Persië, Artasasta, hom toestemming gee om die tempeldiens te gaan herstel. Hy word soos Nehemia in staat gestel om die taak na behore te voltooi deurdat die koning al die middele wat benodig word, in oormaat beskikbaar stel.

Hy word verder opdrag gegee om die wet van God in sy volle konsekwensie aan die volk te leer en toe te sien dat dit gehoorsaam word.

Esra betrek in sy loflied die voorvaders. Dit is waar God se getrouheid gesien word.

Geslagte lank doen God wat Hy beloof het. Hy is met sy mense op pad, selfs deur die moeilikste tye heen. Hoe kan mens anders as om in die woorde van die teks “vol moed” te wees nie? Die goedgesindheid wat die koning aan Esra bewys is vanweë God se toedoen.

Hy werk onsigbaar en wat Hy doen word later in die sigbare vergestalt.

Die feit dat jy die Here nie sien werk nie beteken nie dat Hy onbetrokke of traak my nie agtig is nie. Hy kan in elk geval nooit van onbetrokkenheid beskuldig word nie.

Hy is getrou aan elke belofte wat Hy gegee het en werk konsekwent om daardie beloftes tot vervulling te bring.

Moenie in moedeloosheid verval omdat jy dink dat die Here van jou vergeet het nie. Dit gebeur nooit nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here Jesus dat U nooit van my vergeet nie…dat ek elke belofte in U Woord my eie mag maak….. dat U my bederf met seen en genade…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.