ToekomsVenster: Die liefde van God is in ons harte uitgestort

(Foto: Hernan Pauccara/Unsplash)

“Die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.” − Romeine 5:5 (AFR53)

Die kerk sonder Jesus. Niks. Die kerk sonder die Heilige Gees. Ook niks. Die kerk sonder die Vader. Steeds niks. Die kerk sonder liefde. Eweneens niks.

Paulus vertel ons van die besondere gehalte van liefde wat God deur sy Gees in ons harte uitgestort het. Dit is Goddelik van aard, bekend as die agape liefde.

Daar is verskillende gestaltes van liefde. Die gemeenskaplike is dat dit aards en menslik is. Daar is egter net een liefdesgestalte wat tyd en omstandighede sal en kan oorleef en dit is die liefde van God. Die Bybel leer ons immers, God is liefde. Wie sê dat hy God liefhet, kan nie in vyandskap met sy naaste leef nie.

Die kerk is nie ʼn kultuurorganisasie nie. Kultuurorganisasies doen uitnemende werk en is broodnodig in enige samelewing. Ons het ruimtes nodig waar ons ons unieke verstaan van die wêreld en mekaar kan vier, simbolies, kreatief, innoverend en skeppend.

Afrikaanssprekendes kan feesvier. Die groot musiekfeeste wat deel van ons lewens geword het, is daarvan ʼn klinkklare bewys. Ons is braaivleis-, sonskyn- en gulhartige sing- en dans-mense.

Ons vra nie verskoning nie. Ons gun ander hul ruimtes en vra dat ons ruimtes eweneens respekteer sal word.

Die kerk egter is ʼn ruimte van ʼn ander aard.

God bepaal wie welkom is en wie nie. Ek kan egter nie aan enige plek in die Nuwe Testament dink waar iemand die deur gewys word nie. “Kom na my toe, almal” leer die bekende teks ons. Almal wat honger en dors, verslete en verwaarloos is, kom na die spreekwoordelike huis van die Here. Die deure staan oop.

Dat mense natuurlikerwys assosieer soos hulle tuis voel, is so. Ons hoef niks af te dwing of te poog om polities korrek te wees nie. In die huis van die Here is daar orde.

In die huis van die Here is daar egter ook hartlikheid, vriendelikheid en ontvanklikheid.

Ons sukkel nie om die bekende tuis te laat voel nie. Dis die onbekende wat ons verleë laat.

Jy sien hulle dikwels alleen staan tydens koffietyd. Groepies is netjies gedefinieer – ons ken mekaar en ons kom ʼn lang pad saam met mekaar. Ons groepie is geslote.

Die uitdaging is nog groter wanneer die ander ʼn ander kultuur verteenwoordig.

Vergewe my – maar mag ek maar?

Ek wonder soms na watter Evangelie mense luister en vra myself af of dit die Evangelie van Johannes 17 is.

Lees dit gerus.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.