ToekomsVenster: Die son kom altyd weer op

Foto: OC Gonzalez/Unsplash.com

Sedert die begin van die geskiedenis kom die son altyd weer op.

Daar is ʼn reëlmaat in die skepping. Die son kom op en gaan onder. Met berekende presisie, dag vir dag en dit het nog nooit verander nie. Dis die hartklop van die geskape werklikheid. Die son “kom” op en die son “gaan” onder. Die dag breek aan die dag gaan slaap. Dit kan nie anders nie. Dis hoe God dit bedoel het.

Ek dink sommer aan ʼn mooi lied “Was ek maar ʼn digter” van Kupido:

Dis jy wat my in gedagtes kan wegvoer
Na die maan en die sterre wat deur my venster loer
Jy’s die warm van ‘n kaggelvuur, die sprank van vonkelwyn
En die son wat die mis laat soggens laat verdwyn

Somtyds wanneer die donker jou onverhoeds oorval en langer bly as wat selfs nodig is verbeel jy jou dat dit nooit weer dag gaan word nie. Jy neem afskeid van die lewe en gedagtes kom by jou op wat jou bangmaak. Jy maak jou oë toe en hoop dat wanneer jy dit weer oopmaak, dit alles net ʼn nare droom was, maar tevergeefs.

Die donker bly soos ʼn ongenooide gas en vertoef langer as wat ordentlike mense doen. Jy wys die donker die deur maar dit dring aan op nog ʼn koppie tee. Jy begin aanstaltes maak sodat die donker die boodskap sal kry dat die “kuier” ver te lank uitgerek word maar wat bly, is die onheilspellende teenwoordigheid van die onsekerheid. Dis nie ʼn lekker ervaring nie en dis vir die meeste mense nie ʼn vreemde ervaring nie.

Die soet en die suur, die lig en die donker, die dag en die nag, is eenmaal deel van die spyse van die lewe. Sou dit altyd donker bly sou ons bitter en siniese mense geword het. Sou die lig altyd daar wees sou ons onvergenoegd, bedorwe en arrogant gewees het.

Die donker hou ons nederig, dit bring deernis en sagtheid. Dit maak dat ons met empatie na ander kyk en nie so maklik oordeel en veroordeel nie. Immers, ons was al almal daar.

Ps. 139:12 – maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Amanda ·

Ek sal jou liefhê tot die hane ophou kraai….
En die leeu en die lam bymekaar gaan lê…
So gaan die liedjie aan en aan…..
Dis pragtig! Dankie Maroela Stiltetyd. ????????

Frieda ·

Dankie Vader vir U alom teenwoordigheid elke sekond van elke uur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.