ToekomsVenster: Die tempel van die Heilige Gees

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

“Of besef julle nie dat julle liggaam ʼn tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie…” − 1 Korintiërs 6:19 (AFR83)

Ai, die koppie kan somtyds raas soos een van my vriende somtyds sê. Die koppie kan die snaakste goed bedink, die verkeerde goed vergoeilik en regverdig, die grootste spoke opjaag en met verwronge idees na vore kom. Die koppie moet in lyn kom met die Woord van die Here.

Die Here het ons ʼn verstand gegee en nie sonder rede nie. As Hy nie wou hê dat ons moet kan redeneer en rasioneel handel nie, sou Hy ons robotte gemaak het.

God werk ook in ons koppe. Ons gedagtes moet vernuwe, sê die Woord van die Here. Wanneer ʼn mens in verhouding met die Here leef, kan jy ontspan. Daar is geen rede om voortdurend te worstel met of ʼn saak van die Here is al dan nie. Jou gees sal getuig, die Heilige Gees sal getuig, jy sal vrede hê.

“Dit is my lyfie”.

Die lyfie moet eweneens onder beheer van die Heilige Gees leef. Die lyfie sukkel soms met dissipline. Die lyfie is somtyds op gemak en eiebelang ingestel. Die lyfie gebruik dikwels die woord my en myne. Die lyfie leef by ander verby.

Dis ʼn mooi lyfie, dis ʼn Goddelike lyfie as dit vir die regte doelwitte aangewend word. Die Bybel sê die lyfie is die tempel van die Heilige Gees. Anders as vervloë dae se denke, is die lyfie nie minderwaardig en onbelangrik nie. Wie sy en haar lyfie na behore versorg getuig dat die Koning daarbinne tuis is.

Die lyfie moet versorg word, opgepas word, liefgehê word. Die lyfie is net so deel van God se reddingsplan en gebeure as die res van my. Die lyfie gaan saam hemel toe, weliswaar in ʼn verheerlikte staat maar die lyfie bly nie agter nie, nie by die opstanding van die wat in Christus geglo het nie.

“Dit is my voete”. Die voete wil soos Jona in die teenoorgestelde rigting koers inslaan. Die voete maak ʼn 180 grade draai en loop weg van die Bron van die lewe af. Die voete hou van afdraaipaaie en sukkel soms om weer op koers te kom, maar die voete is eweneens belangrik en deel van God se plan vir hierdie wêreld.

Die voete moet koers kies na hulle wat leiding, warmte, omgee en versorging nodig het. Die voete moet ander gelowiges agterna loop en bemoedig op die reis.

Dis jou koppie, jou lyfie en jou voete.

Hoe is dit daarmee gesteld?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.