ToekomsVenster: Die vier vingers wat terugwys

(Foto: Andrea Piacquadio/Pexels)

“Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.” – Mattheüs 7:1-4 (AFR53)

Mag ek sommer die res van die teks ook hier aanbring.

“Hoekom sien jy die klein stukkie hout in jou broer se oog, maar jy besef nie daar is ʼn groot stuk hout in jou eie oog nie? Jy sien die bietjie wat jou broer verkeerd gedoen het, maar jy sien nie die baie wat jyself verkeerd gedoen het nie. Jy kan nie vir jou broer sê jy wil die klein stukkie hout uit sy oog haal wanneer daar ʼn groot stuk hout in jou eie oog is nie.” – Matteus 7:1-4 (ABA)

Daar is verskeie maniere om oor en met mense te praat. Sommige wyse van kommunikasie maak die deur toe en ander maak die deur oop. Die een praat met die hart en die ander met die hoof. Die een wek deernis, meelewing, begrip en waardering, die ander word ongebreidelde selfverdediging en selfregverdiging.

Dit kan ook nie anders nie, onvriendelike boodskappe wat liefdeloos afgelewer word, soos ʼn posstuk by die verkeerde adres, maak seer. Niemand hou daarvan om seer te kry nie.

As dit nodig is om seer te maak, doen dit so dat jy die ander persoon vir die Koninkryk wen en behou. Moenie dat daardie persoon tot die slotsom kom dat Christene ongepoetste en arrogante mense is nie. Dalk net eers by God se genade-spieël verbystap en teenoor jouself erken: but for the grace of God there goes I.

Ook: it is not my brother or sister Lord it’s me, standing in the need of prayer.

Ons moet ons inoefen om mooi en sag te praat. “Jy”-boodskappe vervreem, behalwe as dit opbouende en bemoedigende boodskappe is. “Jy is” bring jou in die gevaarsone. Wat nou volg maak die verskil tussen lewe en dood.

“Jy is selfsugtig, onbedagsaam, skelm. Jy is agterbaks, ontrou of verwerplik. Jy is ʼn Demas wat die teenwoordige wêreld liefgekry het, die Here gaan jou lampstander verwyder.”

Vanwaar die voortvarende beterweterigheid, kan ʼn mens vra.

Dalk begin met: “Mag ek met jou ʼn gedagte deel. ʼn Mens kan maklik fokus verloor. Die wêreld verlei ʼn mens om jou oortuigings te verruil vir ʼn ander manier van doen. Ek sukkel baie daarmee…”

Kan jy sien hoe dit belangstelling wek, liefde ontsluit?

Ons is mekaar se “oppasser” na aanleiding van Kain se vraag na die moord op Abel en God se vraag aan hom. Inderdaad skuld ons mekaar onderlinge vermaning. Die Bybel het duidelike riglyne in die verband.

As daardie vermaning seermaak, is dit waarskynlik nie liefde nie.

“Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie.” – Romeine 13:10

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.