ToekomsVenster: Die volgende tree is die tree daaruit

woestyn_voetspore_stiltetyd_pixabay.jpg

(Foto: Pixabay)

“Terwyl ons dan so ʼn groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.” − Hebreërs 12:1

Ek het die voorreg gehad om in die onlangse verlede ʼn paar dae by die see te kuier. Soggens vroeg word die strand met groot padskrapers gelyk gestoot wat sulke sandbanke digby waar die water breek tot gevolg het. So probeer ek, see se kant, aan die onderpunt van die sandbank verby te draf.

Die volgende tree het my egter bykans kniediep in die modder.

Alles is nat en besmeer. My tekkies weeg swaar van die water wat dit absorbeer het. Instinktief egter het ek besef dat ek nie hierdie modder my tuiste kon maak nie. Daar was net een oplossing wat sin gemaak het. Gee die volgende tree en die tree daarna. My tekkies en bene dra die tekens van ʼn konfrontasie met die modder, maar die volgende tree het my daaruit gekry.

Ter aansluiting by gister se dagstukkie, moet ons die gesindheid ontwikkel wat sê: “Ek het doodgewoon geen keuse nie. Ek moet hieruit. Ek moet nuwe weë verken. Ek moet hergroepeer, myself nuut definieer, vrede maak met wat is en kyk hoe ek dit gedienstig kan maak aan my toekoms”.

Die tekkies het weer droog geword en die modder kon uitgeborsel word. My bene kon met ʼn bietjie water skoon kom.

Dit mag voel asof alles teen jou is maar ten tye van swaarkry, beproewing en trauma is gevoelens somtyds ʼn vyand.

Voel en gee erkenning daaraan, maar besluit daar en dan dat ʼn moddertuiste nie vir jou bestem is nie.

God het aan ons die wonderlike vermoë gegee om, onder leiding van sy Gees met die Woord en beloftes daarin vervat gewapen, die onmoontlike aan te durf.

Die mense wat ons bewonder is meer dikwels diegene wat ten spyte van en te midde moeilike omstandighede, voorraad opgeneem het, dankbaar kennis geneem het van wat nog oor is en nie toegelaat het dat die gebrek en dit wat weg is, hul blywend definieer nie.

Jy is meer as, groter as, beter as…

Dit is nie so moeilik nie.

Gee net die volgende tree!

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.