ToekomsVenster: Dit is die Here se dag

juanita-badenhorst-04-sonsopkoms

(Foto: Juanita Badenhorst)

“Geloof sy die Here! Dag na dag dra Hy ons! God is ons hulp!” – Psalm 68:20 (AFR83)

Gister se teksgedeelte het my verder aan die dink gesit. “Dit is die dag wat die Here gemaak het, laat ons daaroor juig en bly wees.”

Ai, ons kan darem kla, nie waar nie?

“Moet ek opstaan, ek is nog moeg. Kan ek nie maar vandag by die huis bly nie? Ek wens ek kan net slaap, slaap en slaap.”

Soms is dit: “Nou moet ek weer werk toe gaan. Ek haat dit, die verkeer, die onvriendelike omgewing waarbinne ek werk, die min geld wat ek verdien.

“Ek wens ek hoef nie te studeer nie. Klasdraf is nie vir my nie.

“Ek is moeg, ek is nie lus nie, ek wil nie, ek wens die tyd wil verbygaan, ek wens dit is vakansie, my verjaardag, volgende week, volgende maand of volgende jaar.

“Ek wens ek is al groot. Ek wens ek was nog klein, toe het ander vir my gesorg. Ek het geen bekommernis gehad nie”.

Ons is regte ou klakouse, nie waar nie? Nou ek weet, soms sê ʼn mens die goed sommer net ter wille van iets sê. Jy is nie ernstig nie en eintlik heeltemal vergenoegd.

Tog is daar so baie mense wat onvergenoegd en met ʼn frons tussen die oë leef.

Glimlag is min, positiewe uitsprake bykans heeltemal afwesig. As hulle iets sê, is dit kritiek. Alles en almal moet verander, net nie hulle nie. Of is dit dalk ʼn geval van “alles moet verander, net solank dit nie ek is wat moet verander nie”?

Die Bybel sê: “Dit is die dag wat die Here gemaak het, laat ons daaroor juig en bly wees”.

Dalk, net dalk, is ʼn stukkie sondebelydenis nou gepas.

Ekskuus Here, dat ek so kla.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Luister graag ·

Ek glo beslis dat meeste mense nie waarlik eerlik is oor waaroor hulle regtig struikel nie. Daar is mense wat ‘n nag geen kossies in die huis het en wat met trane aan die slaap raak, en moet met ‘n vriendelike gesig probeer opstaan en die dag aanpak. Soveel mense is so bevoorreg wat met weelde leef (hartseer om te sien dat baie van hulle nie ‘n goddelike fondasie het nie). En die wie wel op ‘n goeie pad is en bevoorreg is met finansies, is beslis uit die Vader se hand. Depressie en groepsdruk het ook ‘n groot invloed op mense se daaglikse lewens, maar weereens mense staar dit mis. Die Here het die mensdom gemaak om juis daardie mense wat so kla te help om hulle optelig. As mens op ‘n goeie plek is in jou lewe geestelik en ook ‘n goeie balans het waar mens se kinders met vol magies gaan slaap, warm klere het om aantetrek, veilig voel in hulle tuiste dan kan mens ook heelwat positief wees. Ek noem dit nie kla nie, ek noem dit meer onvervul.

Yvonne ·

Dankie Here dat U my seen met elke nuwe dag wat U vir my gun…dit is vir my genoeg….Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.