ToekomsVenster: Dit is ons verantwoordelikheid

(Foto: Stephan Hauman)

“Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra. Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!” – Johannes 15:16-17

Ek het die vorige week ʼn kongres bygewoon wat onder andere deur die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke georganiseer is. Bykans alle hoofstroom denominasies is daarvan deel, waaronder die NGK. Ek is deur Radio Kansel afgevaardig om as mediaverteenwoordiger die geleentheid by te woon. Daar was ongeveer ʼn duisend persone teenwoordig by ʼn uitmuntend georganiseerde geleentheid.

Die tema van die geleentheid was “Our country, my responsibility”.

Een van die sinsnedes wat tydens die byeenkoms my aandag getrek het was, as ek dit in Engels mag sê: “No one is coming to save us. We will have to do it ourselves”.

Die kongres het aandag geskenk aan die groot uitdagings waarmee Suid-Afrika gekonfronteer word. Ons is alma daarmee bekend alhoewel ons dit nie so aan die lyf voel soos die mense wat bykans deurlopend aan die agterspeen suig nie.

Dienslewering is deesdae ook in die metro’s ʼn uitdaging. Dink aan die onverkwiklike werklikheid daarvan in die Tshwane-metro waar kriminele elemente groot skade berokken tydens die loononderhandelinge, maar ander motiewe en agendas koester.

Mense is desperaat, maar dit blyk nie dat daar ʼn oplossing vir die saak is nie.

Dit is egter die daaglikse realiteit van mense wat in landelike gemeenskappe woon. Daar is nie minder nie as 26 diensleweringproteste elke dag in Suid-Afrika.

Meer mense sterf plaaslik as in die oorlog in die Oekraïne.

Iemand het die afgelope week opgemerk Suid-Afrika is in ʼn lae-profiel oorlog gewikkel.

Misdaad is buite beheer.

Mense ly honger.

Die regering van die dag het Suid-Afrika in die steek gelaat.

Tog is dit ons land en daarom is dit ons verantwoordelikheid. Die uitdaging is so oorweldigend dat ʼn mens iewers in ʼn hopie wil gaan sit en handdoek ingooi.

Die keuse is ons as Christene nie beskore nie.

Daar is geen alternatief as dat ons die Here vra om ons te bemagtig ten einde ons land uit die moeras te trek nie.

Hoe doen ons dit? Ons doen dit deur onsself en ander in ons samelewingsverband of gemeente te vra wat ons kan doen ten einde die land vir onsself en ons kinders ʼn gesonder plek te maak.

Dit mag onbenullig voel maar ʼn glimlag by die kasregister, ʼn toebroodjie by die straathoek, skoolgeld voorskiet aan die persoon wat in ons huise werk, ʼn hand van bemoediging op die skouer van iemand wat dit nodig het, is reeds Koninkrykswerk.

Ons kan nie alles doen nie, maar ons kan wel iets doen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.