ToekomsVenster: Dit sal ook verbygaan

(Foto: Ante Hamersmit/Unsplash)

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. – Romeine 8:28 (AFR83)

Mens vergeet gou, nie waar nie? Wanneer jy in die krisis is voel dit asof die trauma vir altyd sal aanhou. Dit lyk soos ʼn hoë berg voor jou en jy het nie die krag om dit aan te durf nie.

Dan en wonderbaarlik kyk jy eendag terug en jy wonder hoe jy die krisis oorleef het. Die enigste antwoord wat sin maak is die Here het gehelp.  Die Psalmdigter sê dieselfde:

‘n Pelgrimslied. Van Dawid. As die Here ons nie gehelp het nie, dit moet Israel bely, as die Here ons nie gehelp het toe mense ons aangeval het nie, dan het hulle ons lewendig verslind toe hulle woede teen ons ontvlam het. – Psalms 124:1-3 (AFR83)

Lees gerus die res van die aangrypende Psalm. Luister ook na Psalms 127: As die Here my nie gehelp het nie, was die stilte van die graf seker al my tuiste!

Dit is die opmerklike van ons swaarkry, dit hou nie vir altyd aan nie. Daar kom ʼn dag dat die son weer skyn, die woorde van Billy Paulson se bekende lied.

Môre sal die son weer skyn

Miswolke sal dan verdwyn

Glimlag deur die stormwind

Jy is mos ‘n Koningskind

Op ʼn ander plek getuig die digter in Psalms 30:6: Waarlik, sy toorn duur net ‘n oomblik, maar sy goedheid lewenslank. Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer.

Ek weet nie wat jou konteks vandag is nie, maar die Here weet.

Ek ken jou nie maar die Here ken jou deur en deur.

Ek kan jou nie help nie maar Hy kan.

Ek is ver maar Hy is naby, nee, Hy is in jou.

Onthou, dit sal ook verbygaan.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.