ToekomsVenster: Doen doodgewoon wat reg is

(Foto: Joshua Bachand/Unsplash)

Habakuk 2:4 – Dit is die boodskap: Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry, maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly.

Die boodskap van die Bybel is eintlik nie so moeilik om te verstaan nie. Trouens, wat verstaan ons nie van die aangehaalde teks nie?

Destyds toe die Jesus Projek die misbruik van God se Naam in die media aangespreek het het ons letterlik honderde stukke korrespondensie na Hollywood gestuur. Elke rolspeler is geteiken, regisseurs, akteurs, draaiboekskrywers en selfs finansierders. Een so ʼn poskaart het die teks in Eksodus 2o daarop gehad: “ Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie want die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik nie ongestraf laat bly nie”.

Onderaan die teks het die woorde gestaan: “ Wat verstaan jy nie?”.

Dit is tog baie duidelik wat die Woord van die Here in die verband sê.

Hier worstel die profeet ook met sy “waaromsvrae”. Van binne en van buite is daar ongekende druk en baie daarvan hou met geweld verband.

Deernis en medemenslikheid ontbreek in ʼn samelewing waar elkeen kyk hoeveel hy vir homself kan inpalm. Habakuk wil hê die Here moet ingryp, en sommer gou ook. Trouens, hoe kan die Here wat self heilig en eerbaar is toekyk as daar soveel onreg gepleeg word? Sy heiligheid verbied dit. Sy oë is te rein om soveel ongeregtigheid te moet aanskou.

Jy kan gerus die kort profetiese boek deurlees want die oplossing wat God voorstel is nie wat Habakuk verwag het nie. Dit ontstel hom nog meer. Dan kom die eenvoudige, toegegee van vanweë ons menslike natuur somtyds moeilike oplossing, vir alle stryd op aarde. Vrede met mekaar en vrede met God: Doen doodgewoon wat reg is.

Dit is nie te moeilik om te verstaan nie. Ja, daar is somtyds situasies waarin die aangewese optrede nie so helder voor oë  is nie maar dit is duidelik nie waaroor dit hier gaan nie.

Binne die konteks van sonde, oordeel en geregtigheid die goue maatstaf, doen die regte ding, tree reg teenoor mekaar en God op. Dan sal die oordeel jou nie tref en hoef jy vir die geregtigheid van God nie te vrees nie.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here U weet en sien en hoor al die lamlendige verskonings wat die mens mee vorendag kom om hulle dade te verdedig……Here was ons skoon met U kosbare bloed….Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.