ToekomsVenster: Ek het al vergeet hoe dit voel om betekenisvol te leef

Foto: pixabay.com

“God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.” – Efesiërs 2:10

“Daar moet meer wees,” is die versugting van baie mense. Die roesemoes van elke dag se bestaan en worsteling wat daarmee gepaard gaan, laat ʼn mens afgestomp en onbevredig voel.

Dit voel of jy werk, maar niks kan wys nie. Die lewe en die eis wat dit stel is soos ʼn bodemlose put.

Dit vat sonder om iets terug te gee. Hoe harder jy stry, hoe groter raak die vakuum.

Die ervaring raak jou op alle vlakke van jou menswees. Jy is buierig en geïrriteerd. Jy verloor jou humeur en verskreeu die mense wat naby aan jou is. Jy wil huil, maar die trane wil nie vloei nie. Jy is kwaad, maar jy kan nie mooi verwoord vir wie en waarom nie. Jou lewe voel leeg en onbevredigend.

Jy bestaan, maar kan dit nie lewe noem nie. Nie hoofletter lewe soos Jan de Wet gesing het nie.

Feit van die saak is dat voluit lewe en ʼn bevredigend, vervullende lewe deel van God se bedoeling vir jou lewe is. Daar kan geen twyfel wees dat die Here niks minder vir jou begeer as lewe en oorvoed nie.

Jy onthou die uitreike waarvan jy deel was as lid van die jeugbediening van jou kerk. Jy dink met heimwee terug aan die getuienisaande en die klop aan mense se deure om God se goeie wense oor te dra. Jy hoor die hallelujas weerklink met Pinkster-dienste destyds en die saamwerk om die kerkbasaar te laat vlot. Jy ruik die medisyne as jy saam met medegelowiges die bejaardes besoek en versorg het, die sing in die gange van hospitale.

Ten einde dit weer te kan beleef, sal jy die vier mure rondom jou bestaan moet afbreek sodat jy die res van die wêreld kan raaksien. Jy sal moet reken met die feit dat die Here jou talente en gawes gegee het waarmee jy die koms van sy koninkryk ʼn werklikheid kan maak en dat Hy jou steeds wil gebruik. Jy sal die spasie wat jy daagliks opneem as bedieningsveld moet beleef. Jy sal avontuurlustig moet begin raak en nuuskierig wees oor wat rondom jou aangaan en die moontlikhede wat dit bied om iets “vir die Here” te doen.

Jy sal moet kyk soos Jesus kyk en luister soos Hy luister. Jy sal jou hande, voete en hart aan Hom moet toewy as instrumente wat Sy goeie wil doen. Jy sal die Gees moet vra om jou te bemagtig om invloed uit te oefen, sout en lig te wees, en die adres te word waarheen mense met nood kom.

Soos met die ander komponente van die geloofslewe is daar nie van voorskriftelikheid sprake nie.

Die Here vra net ʼn soekende hart en ʼn gewilligheid om Sy wil te doen.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.