ToekomsVenster: Ek het al vergeet hoe dit voel om geliefd te wees

(Foto: Hernan Pauccara/Unsplash)

“Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe.” – Jesaja 43:4

Niemand kan sonder liefde en aanvaarding regkom nie. Ons is sosiale wesens wat in verhoudings staan en moet staan. Eensaamheid is niks lekker nie. Dit is in ons interaksie met mekaar dat ons onsself definieer. Die interessante term “ubuntu”, wat dikwels gebruik word, verwys na ʼn vorm van naasbestaan. Dit beteken “I am, because we are”, in Afrikaans dan seker “Ek is, omdat ons is”.

Sonder ander sukkel ek om myself te wees, te verstaan, te beleef en te laat geld.

Verhoudinge gebeur in konsentriese sirkels. Daar is die sirkel naaste aan jou, en dan die wat verder en verder uitkring. Liefde vir jou heel naaste het ʼn ander kwaliteit as liefde vir hulle op die verste rand. Dit is egter niks minder liefde nie en behoort alle verhoudings te definieer. Trouens die Bybel leer ons dat ons mekaar moet liefhê en dan soos Christus ons liefgehad het.

Liefde wat nie op die een of ander wyse terugvloei nie, is onbevredigend. Liefde en weerliefde –liefde gee en liefde ontvang – is die twee kante van die munt.

Sommige sukkel om liefde te ontvang. Wantroue maak byvoorbeeld dat ander mense nie vertrou word nie.

Hulle moet ʼn agenda hê, word geredeneer en gevolglik trek jy laer rondom jou hart.

Ander voel dat hulle nie werd is om liefgehê te word nie. Dit kan natuurlik ook ʼn vorm van hoogmoed wees.

Die moordenaar aan die kruis word verseker van Jesus se liefde, waarom dan nie jy nie? Daar is inderdaad net mooi niks wat jou kan skei van die liefde van die Here nie.

Nog ander het slegte ervarings gehad wanneer dit by liefde kom en wil nie weer seergemaak word nie. Derhalwe is hulle harte toegesluit.

Liefde is ʼn waagspul, dit is ʼn risiko. Jy weet nie hoe ander op jou liefde gaan reageer nie. As ander vir jou liefde ontvanklik is, word dit met liefde beantwoord. As dit egter nie ontvang word nie, lê die probleem nie by jou nie. Moenie verwerping vir jou rekening neem nie. Die ander party moet daarmee deel.

Liefde begin inderdaad by selfliefde. Wie homself nie liefhet nie, sal ander moeilik liefhê. Die vraag is waarom jy jouself nie kan liefhê nie. Is dit ʼn vorm van selfkastyding oor iets wat in die verlede verkeerd geloop het? Jesus het klaar betaal. Al jou moeite, hartseer en selfkastyding is verniet.

Skep uit die fontein van vergifnis. Leef uit die beloftes van sy Woord.

Al was jou sonde onuitwisbaar in jou menswees ingestryk, God kyk daarby verby en sien wie en wat jy kan wees as jy Hom al vertrou.

Laat my dink aan die woorde van die mooi lied:

“Weet jy dat Jesus jou liefhet,

Weet jy dat Hy baie van jou hou.

Sommer net soos jy is,

want jy is kosbaar en waardevol vir Hom.”

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.