ToekomsVenster: Elkeen se verantwoordelikheid

(Argieffot0)

My geneigdheid tot perfeksionisme, hoë standaarde en erns met reg en verkeerd, maak dat ek goed wat verkeerd is, nie in orde is nie, anders daaruit moet sien, dadelik opmerk.

Dit is tegelykertyd ʼn gawe, maar ook ʼn lastigheid wat ʼn mens met jouself saamdra. Dit verg dissipline om telkens die koppie wat half vol is raak te sien en nie te wonder wat van die res van die koffie geword het nie.

Dalk kan jy met my identifiseer of dalk ken jy so iemand.

Ek het ʼn kleintjie dood aan ʼn vuil omgewing en ongelukkig het ons met morsjorse te doen in ons pragtige land. Mense dink niks daarvan om hul steeds brandende stompies by die motorvenster uit te skiet of die kougom wat smaakloos gekou is onder die stoel vas te plak nie.

Dit is veral sakeondernemings, wat hul gebrek aan respek vir kliënte tentoonstel, wat ontstel. Dat kliënte hoegenaamd by die perseel uitkom in ag genome die slaggate daarheen is ʼn wonder. Ek sou dink dat selfs net effense respek vir die mense wat jou ondersteun sou beteken dat jy die omgewing op pad, weg van en voor jou onderneming, toeganklik, skoon, funksioneel en aangenaam sou hou, maar helaas.

So tref dit my dat die mooi geriewe waar ons tans tuisgaan in bogenoemde kategorie ressorteer. Die kort afdraaipaadjie na die eenheid en die andersins bruikbare parkie is met vullis besaai. Klaarblyklik is dit iemand anders se verantwoordelikheid. Dat die gastehuis ʼn verantwoordelikheid het in die verband, gaan by hulle verby.

Vroeg vanoggend egter sien ek ʼn paar vrywilligers, gewapen met toerusting van allerlei aard, besig om die omgewing op te ruim. Die slaggate word opgevul, die gras word gesny en die vullis bymekaar gemaak. Die dooie takke word van die trotse bome en struike verwyder en bymekaar gebring. Mans en vroue, bygestaan deur gehuurde arbeid, werk onverpoos om die terrein op te ruim.

Nou hoe werk dit met ons in sonnige Suid-Afrika?

Dalk, om by gister aan te sluit het ons so gewoond geraak dat iemand gaan opdaag en skoonmaak.

Ek het nuus vir elkeen wat hier lees. In uitsonderlike gevalle mag iemand opdaag om die omgewing te versorg.

Die kans is gering, behalwe as dit ʼn verkiesingsmaneuver is.

As elkeen van ons respek vir onsself, ander en die omgewing, God se handewerk betoon, sal Suid-Afrika anders daaruitsien.

Hoe lyk dit daar by jou?

Vir wie wag jy?

Hulle gaan na alle waarskynlikheid nie opdaag nie.

Jy het mos ʼn graaf, besem en hark.

Dit kan jou ver bring.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here….dat ek mag woon waar die waardes onderhou word….my gebede vir dele van ons pragtige land wat onder vuilis begrawe is….Here versterk die hande van elkeen wat hierteen veg…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.